MOTORNUUS - Met 'n trotse geskiedenis wat die afgelope 65 jaar gevestig is, is 'n nuwe Prado altyd groot nuus in die motorwêreld - selfs al bestaan "nuut" eintlik net uit 'n nuwe enjinkapdeksel, groter wiele (kies tussen 17" of 18") en 'n slanker sykant om die voertuig nog breër te laat vertoon.
En juis om te bewys dat die Prado, ondanks die kosmetiese opkikkering, steeds dieselfde robuuste en betroubare 4x4 is wat dit legendariese status in Afrika besorg het, is daar min getorring aan aspekte wat regtig saakmaak.
SPIERE
Twee enjin groottes is beskikbaar – 'n 4-liter V6-petroleenheid en die bekende 3-liter Turbodiesel wat albei aangepas is vir ons land se swak brandstofgehalte.
Aandrywing is deur 'n sesgang-outomatiese ratkas wat seepglad geskakel het.
Die uiters uitdagende sowat nege kilometers van die Sanipas (gemeet vanaf die Suid-Afrikaanse polisiepos en grensbeheerpunt) was duidelik die Prado se kos.
Die kort draaisirkel het baie gehelp om haarnaalddraaie (waarvan daar verskeie was) onder die knie te kry.
LEKKER BINNE
'n Groot en swaar voertuig soos die Prado (2 990 kg) was nog altyd gerieflik met luukse sitplekke wat goeie steun bied, luukse kenmerke soos volledig (elektries) verstelbare sitplekke voor en 'n sentrale konsole tussen die voorste sitplekke wat aan die lugversorging gekoppel is en die koeldranke behoorlik koel hou.
Die luukse nuwe Prado.
Alle vensters is elektries, met baie groot kantspieëls, terwyl die klankstelsel suiwer klank bied tesame met goeie radio-ontvangs in die mees afgeleë gebiede tussen Suid-Afrika en Lesotho.
Daar is pakplek in oorvloed, en die 87-liter-tenk sorg vir 'n goeie reikafstand.
SLOTSOM
Die kort diensintervalle (10 000 km) is ietwat teleurstellend veral omdat die meeste ander vervaardigers met 15 000 regkom en Ford selfs sy diensintervalle tot 20 000 km gerek het.
Die drie jaar of 100 000 km waarborgtydperk, asook die vyf jaar of 90 000 km diensplan bevestig weer die vervaardiger se vertroue in sy produk – ondanks mededingers soos 'n hele hand vol Range Rovers, BMW X3's, die Porsche Cayenne en selfs die Jeep Grand Cherokee.
Ek sal maar steeds my geldjies op die Prado verwed - al is dit net omdat ek te jammer sal wees om iets soos 'n Cayenne aan die ruwe buitelewe bloot te stel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'