MOTOR NUUS - Daar is moontlik die vooruitsig van 'n bietjie verligting met die brandstofprys vir Suid-Afrika.
Dit is die mening van die Automobiel Assosiasie (AA) in hul kommentaar op die ongeouditeerde prys vir die middel van die maand soos deur die Sentrale Energiefonds (SEF) vrygestel.
"Internasionale oliepryse het deur Oktober stabiel gebly, maar sedert begin November effens begin daal," volgens die AA. "Die rand teen dollar-wisselkoers het oor dieselfde tydperk verstewig wat 'n welkome bydrae maak."
Huidige data dui op 'n waarskynlike afname van 45 sent per liter, met diesel 38 sent en paraffien 40 sent af.
Die AA het egter gewaarsku dat die rand skerp teenoor die dollar verswak het na die Amerikaanse verkiesing. Indien die plaaslike geldeenheid nie terugkeer na sy vorige vlakke nie, kan die prentjie teen die einde van die maand heel anders lyk.
"Behalwe vir korttermynskommelinge, bly die rand blootgestel aan 'n moontlike ekonomiese afgradering van Suid-Afrika," het die AA in 'n verklaring gesê.
"Die geldeenheid is nou ook kwesbaar vir moontlike verskuiwings in die Amerikaanse beleid aangesien die nuwe president, Donald Trump, vroeg in 2017 sal oorneem. Terwyl die verwagte vermindering voor die 2016-feesseisoen baie welkom is, sal Suid-Afrikaners wys wees om nie voortgesette afnames in die brandstofpryse in die volgende paar maande te verwag nie," het die AA afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'