MOTOR NUUS - Honda Motor Suider-Afrika het sy opwin-dende en vertroude reeks sportnutsvoertuie (SNV's) met 'n derde, splinternuwe model uitgebrei. Die BR-V sluit aan by die gevestigde CR-V en die uiters gewilde HR-V, wat verlede jaar bekend gestel is.
Die bekendstelling in Wes-Kaapland was, soos altyd, 'n gesellige en professionele geleentheid waar media aan die nuweling voorgestel is.
Die ritgehalte, kragtige voorkoms en gewillige enjin het van die begin af tot end-uit die maatskappy se trefkrag in hul mark onderstreep. Die feite strook hiermee, want Honda-eienaars is oorwegend lojaal en is min geneig om hul motor vir 'n ander handelsmerk te verruil. Die lojaliteitsfaktor word bereken op sowat 75% van huidige Honda-eienaars wat in 'n Amerikaanse eienaarspeiling weer dieselfde fabrikaat sal koop. Die lys van toekennings vir betroubaarheid strek al vir dekades en sluit onder meer verskeie van J D Powers in.
Hoewel die BR-V onmiskenbaar lid is van die Honda-familie, bied die nuwe SNV sy eie kenmerkende stilering met 'n rats, sportiewe voorkoms. Die voertuig staan hoog en stewig op die pad en dit gee die gespierde indruk wat van 'n SNV verwag word.
Smukplate op die voor- en agterbuffers, asook dakrelings en wiele van 16" is van die kenmerkendste visuele elemente. 'n Mooi sierrooster, met chroomversierde dwarsbalk, duidelike Honda-kenteken en vaartbelynde kopligte sorg vir 'n kenmerkende Honda-voorkoms.
RUIM
Die ruim binne-afmetings beteken dat 'n derde ry sitplekke ingepas kan word, met sitplek vir sewe insittendes. Toegang tot al die sitpekke is maklik en gerieflik, danksy verdeelde sitbanke wat met die trek van 'n handvatsel maklik vorentoe oorvou.
Die gemak waarmee die middelste en agterste sitplekrye gevou en vorentoe getuimel word, sorg ook vir die soort veelsydigheid wat eienaars van 'n nutsvoertuig graag wil hê. Die B-RV se binneruim kan dan op vele verskeie maniere ingerig word vir die variasie in die aantal sitplekke en vragruimte soos dit benodig word.
Die binneruim is netjies en uitstekend afgewerk met 'n deftige indruk en geen ooglopende harde plastiek nie. Die afwerking in die algemeen is fyn en die soort gehalte wat Honda-eienaars sal herken. Selfs die Trend-intreevlakmodel bied lugreëling, elektries verstelbare ruite voor en agter, asook afstandbeheerde sentrale sluiting. 'n Klankstelsel met vier luidsprekers en USB-verbinding is standaard, terwyl selfone deur Bluetooth met die klankstelsel praat.
VEILIGHEID
Wat aktiewe en passiewe veiligheid betref, word die BR-V as standaard met ABS-sluitweerremme toegerus met dubbele lugsakke voor en rukstopgordels vir alle sitplekke buiten die middelste sitplek in die tweede ry, wat 'n skootgordel het.
Al die plaaslik beskikbare BR-V-weergawes word deur dieselfde enjin van 1,5 liter aangedryf. Die viersilinderenjin met enkelbonokas maak van Honda se i-VTEC kleptydreëlstelsel gebruik en lewer maksimumkrag van 88 kW by
6 600 r/min, tesame met 'n wringkragpiek van 145 Nm by 4 600 r/min.
Die nuwe BR-V bied kopers die keuse van 'n sesgang-handratkas of Honda se verfynde Voortdurend Veranderlike Transmissie (VVT). Laasgenoemde is met skakelspane toe-gerus sodat bestuurders self ratte kan kies.
Die BR-V is die heel jongste in Honda se reeks sportnutsvoertuie.
BESONDERHEDE
Kopers van die BR-V het 'n keuse van vier kleure: Orchid-wit, Urban-titaan, Alabaster-silwer en Carnelian-rooi.
Die modelreeks en kleinhandelpryse is as volg: Honda BR-V 1,5 Tren-handrat - R238 900; Honda BR-V 1.5 Comfort-handrat - R252 900; Honda BR-V 1,5 Comfort CVT - R268 300; Honda BR-V 1,5 Elegance-handrat - R272 900 en Honda BR-V 1,5 Elegance CVT - R288 300.
Die prys sluit Honda se standaardwaarborg van vyf jaar of 200 000 km in, asook AA-padbystand van drie jaar. Comfort- en Elegance-weergawes kry ook 'n diensplan van twee jaar of 30 000 km. Diensintervalle is elke 15 000 km.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'