SUID-KAAP NUUS - 26 veteraan- en klassieke voertuie neem vanaf 24 tot 28 September deel aan die vyfde Liquorland Erfenistoer wat oor 1150 kilometer strek en 15 dorpe insluit.
Die Liquorland Erfenistoer is naas die jaarlikse George Oumotorskou een van die belangrikste geleenthede op die Suid-Kaap Oumotorklub se kalender. Dit word aangebied ter viering van Erfenisdag op 24 September en vertrek dan ook op hierdie dag vanuit George.
Omdat die Liquorland Erfenistoer ook deel vorm van toerismemaand-vieringe in September, bring die deelnemers in hul blinkgepoetste versamelstukke besoek aan sowat 15 dorpe langs die sirkelroete wat vanaf George oor Bredasdorp, Wellington, Ceres en terug na Calitzdorp strek.
Die groep veteraan- en klassieke motors wat aan die toer deelneem vertrek vroegoggend op Saterdag 24 September uit George vanaf die Precap Sentrum in Courtenaystraat.
Volgens Pierre Olivier, voorsitter van die Suid-Kaap Oumotorklub, wat die roete beplan het, is die verskillende voertuie se enjinkapasiteit en ander tegniese aspekte in ag geneem. Volgens hom moes die roete ook so beplan word dat die vier dorpe waar die toerlede oornag genoeg verblyf vir almal het.
“Omdat die Model T Fords nie baie vinnig kan ry nie, sal daar daagliks nie meer as sowat 300 km afgelê word nie,” sê Phillip Rosser, lid van die komitee wat die Erfenistoer reël.
Op dag een (24 September) vertrek die voertuie om 07:30 uit George en volg die N2 tot by Swellendam. Dan draai hulle af met die R319 na Bredasdorp en Arniston waar hulle oornag.
Op dag 2, Sondag 25 September pak hulle die dag se roete van 195 km aan en ry deur Caledon en Villiersdorp na Worcester waar hulle oornag.
Dag 3 strek oor 243 km en 'n hele aantal bergpasse. Vanaf Worcester ry hulle oor Bainskloof na Wellington, Gouda, deur die Nuwekloofpas en die Mitchellspas na Ceres en oor die Theronsbergpas tot by die N1 Karoo Hotel. “Hierdie is sekerlik die mooiste roete op die toer,” sê Olivier.
Dag 4 neem die veterane edeur die Koovallei en Burgerspas na Montagu, Barrydale en Ladismith tot in Calitzdorp. Die toer word op Calitzdorp met 'n galadinee afgesluit. Woensdagoggend val elkeen op sy eie pas in op sy eie rigting huis toe.
Die voertuie wat ingeskryf is, sluit 26 veteraan- en klassieke motors in. Die oudste voertuie wat deelneem is nie minder nie as ses Model T Fords. Die oudste twee dateer uit 1914. Die ander Model T Fords is twee 1915-modelle, 'n 1924-model en een van 1926.
Van die ander voertuie sluit in: 'n Ford Model A wat dateer uit 1927 en 'n 1929 Chevrolet Phaeton.
Onder die klassieke voertuie (voor 1975 vervaardig) is 'n 1948 Chevrolet Fleetline, 1952 Mercedes Benz 300 Cabriolet, 'n 1964 Vauxhall en 'n 968 Porche 912 Targa.
ander ou gunstelinge sluit VW kewers, Pontiacs, Studebakers en Morris Minors in.
“Ons wil met die Liquorland Erfenistoer ook volgende jaar se Oumotorskou, wat op 11 en 12 Februarie by die PW Botha Kollege op George plaasvind, bekendstel,” se Olivier. Na afloop van die toer word daar ook ‘n kontantbedrag aan ‘n verdienstelike organisasie oorhandig.
Kontak Olivier by 082 872 6456 of Phillip Rosser by 082 410 5490 vir meer inligting oor die Erfenistoer.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'