NEU-BETHESDA NUUS - In Nieu-Bethesda, waar Denley Swartz die instansie Youth Explosion bedryf, word daar in hierdie skoolvakansie daagliks sokker gespeel, en elke naweek word daar opwindende toernooie aangebied.
Swartz is in beheer van die hele program, waartydens hy ook hierdie kinders motiveer en geestelik en emosoneel versterk vir die harde lewe daarbuite.
"As 'n gerehabiliteerde dwelmafhanklike, het ek my roeping in die lewe gevind, en dit is om na kinders, uit moeilike omstandighede, uit te reik en hul oë oop te maak vir die gevare daarbuite," deel Swartz mee.
Verskeie borge is voortdurend betrokke by dié sokkertoernooi, waaronder ook persone wat anoniem wil bly, asook Saju se Winkel, Katja Offerman, Compass View en die Nieu-Bethesda Ratepayers Verening.
Met die finale wedstryde wat oor die naweek van 20 en 21 Desember gespeel gaan word, sal daar trofees wees vir die beste doelwagter, en die beste doel van die toernooi sal ook benoem word.
Natuurlik sal die beste speler van die toernooi 'n toekenning ontvang, asook die beste afrigter.
Altedaam 6 spanne neem deel aan die toernooi en elke span het 19 spelers, Youth Explosion hou dus 114 kinders in Nieu-Bethesda besig vir drie weke van die skoolvakansie," vertel Swartz.
"Daar sal dan ook aan die top 3 spanne elk ñ trofee en medaljes aan die spelers oorhandig word."
Tydens die afgelope naweek se wedstryde was die volgende oorhandigings gemaak.
CJ van Rensburg, Cezario Davids en Jappie Quashu was benoem as die Beste Spelers van hul Wedstryde, terwyl die o.13 Young Lions die afgelope naweek, 13 en 14 Desember, as wenners van dié naweek se wedstryde uit die stryd getree het.
"Ek wil graag sien dat die positiewe verskil wat hierdie 3 weke in die manne se lewe gemaak het, hul toekomsvisie sal beïnvloed, en ek is beskikbaar waar ek mag nodig wees, om 'n verskil in kinders uit moeilike omstandighede, se lewens te maak," sluit Denley Swartz af.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’