GRAAFF-REINET NUUS - Die bekendstelling van Wildepruim deur Elmaré Lombard - ’n oud-Graaff-Reinetter wie se wortels diep in die Karoo en Kamdeboo geanker lê, sal op 24 Oktober, om 10:00 by Reinethuis in Graaff-Reinet gehou word.
Lombard is die dogter van Danie en Dina Els, geliefde inwoners van Adendorp en later Graaff-Reinet.
Baie onthou hulle goed as sakemense wat destyds ’n groot rol in die dorp- en boeregemeenskap gespeel het.
Met ’n meestersgraad in sielkunde van Universiteit Stellenbosch, het Elmaré haar loopbaan as skoolsielkundige begin en later as gesinsielkundige voortgesit.
Haar passie vir mense en die natuur het uiteindelik gelei tot die skryf van Wildepruim.
Hierdie debuutroman is ’n kontreiverhaal wat in ons eie Kamdeboo afspeel – maar dit is terselfdertyd ook Elmaré se persoonlike verhaal, fiksie verweef met herinneringe, mense en die natuur wat sy so liefhet.
As die Kamdeboo en Graaff-Reinet jou na aan die hart lê, is Wildepruim ’n boek wat eenvoudig in jou rak hoort!
Graaff-Reinet word uitgenooi om na Lombard te kom luister en haar te ontmoet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’