WILLOWMORE NUUS - Moedelose inwoners van Willowmore het Vrydag 13 September Graaff-Reinet Advertiser genader om die munisipaliteit te oorreed om die vullis voor ‘n huis, waar daar die volgende oggend 'n groot begrafnisdiens sou wees, te verwyder.
Menseregte-aktivis, Zola Menze, sê die munisipaliteit is reeds op 28 Augustus versoek om voor die betrokke huis skoon te maak, en Vrydag is nog 'n dringende versoek gerig.
“Ons pleit al van vanoggend af by die munisipaliteit,” het Menze gesê. Menze sê hulle het twee raadslede gevra om in te gryp, maar dat dit blyk hul hande is afgekap.
Skrywe aan muni
Dit is nie Raadslid Ewald Loock se wyk nie, maar hy het die munisipaliteit vroeg Vrydagoggend, toe die probleem onder sy aandag gebring is, gevra om die vullis te verwyder. Saterdagoggend, voor die begrafnisdiens, het hy weer gevra en die volgende skrywe aan die munisipale bestuurder gerig: “Dit is waar begrafnis vanoggend gehou gaan word. Is dit hoe buitemense Willowmore nou moet sien? Is dit wat Willowmore se mense verdien? Ek is self nou op terrein. Behalwe hierdie is daar talle sulke seeroogkolle wat nou ontwikkel en wat Willowmore se mense nie verdien nie. Is dit die rusultaat van samesmelting?”
Ten spyte van die gemeenskap en Raadslid Loock se pogings, is die begrafnis met vullis en al gehou. Teen druktyd, Woensdag 18 September, was die rommel steeds daar.
Morsjorse skuldig
Inwoners het gemengde gevoelens oor die foto's van vullishope wat op sosiale media versprei word. “Ons dorpie is besig om ‘n seer oog vir toerisme te word,” het een opgemerk. ‘n Ander het bevraagteken hoe mense so voor hul eie deure kan mors en dan verwag dat die munisipaliteit dit moet skoonmaak. “Dit is wonderlik dat dit die munisipaliteit se probleem kan word. Vir 12 jaar lank het die munisipaliteit nooit vullis weggery nie, ek moes my eie vullis wegry.”
Loock stem saam dat inwoners ook verantwoordelikheid moet neem om die dorp skoon te hou. Hy sê egter dat dit vir baie mense moeilik is om hul vullis na die stortingsterrein te neem omdat dit so ver is. “Daar moet plekke wees waar mense wettig rommel kan stort. Dit is hoekom daar destyds - tydens die ou Baviaans-munisipaliteit se bewind - hotspots was.”
Hotspots was areas wat deur die munisipaliteit afgekamp is waar mense vullis kon gooi wat weekliks deur die munisipaliteit verwyder is. Die pale en draad van hierdie hotspots is egter mettertyd gesteel, maar Loock glo daar is tog maniere om dit weer in werking te stel.
Enorme diensteskuld
Volgens Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit is die uitstaande skuld vir afvalbestuur een van die grootste redes waarom hierdie diens nie effektief gelewer kan word nie.
Op 30 Junie 2024 het die skuld byna R83-miljoen beloop.
Voertuie en toerusting word benodig vir behoorlike afvalbestuur en stortingsterreine moet onderhou word en sonder betaling kan dienste nie effektief gelewer word nie.
Besteding bevraagteken
Die gemeenskap bevraagteken egter die manier hoe hulpbronne aangewend word. “Hulle ry op en af, op en af, met die bakkie. Jy sien net hier gaan die munisipaliteit, daar gaan die munisipaliteit. Dis erger as ‘n jikeleza taxi. Wie betaal vir die brandstof wat hulle so uitry?”
Een voorstel is dat ‘n werkskommitee gestig word om die uitdagings aan te spreek. Loock stem saam dat die gemeenskap om ‘n tafel moet sit om oplossings te vind, maar benadruk dat afvalbestuur 'n munisipale verantwoordelikheid is. “Die munisipaliteit is verplig om vullis te verwyder en daardie verpligting moet hulle nakom,” sê hy.
Mag nie brand nie
‘n Inwoner het intussen self van die vullishope voor haar huis ontslae probeer raak omdat sy die reuk nie meer kon verdra nie. Sy het Dinsdagoggend die vullishoop aan die brand gesteek, maar die brandweerdienste was binne ‘n oogwink daar en sy is gewaarsku dat sy haarself aan onwettige brandstigting skuldig maak.
Meeste inwoners sukkel om by die stortingsterrein uit te kom.
Die gemeenskap soebat dat die munisipaliteit die vullis moet verwyder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’