GRAAFF-REINET NUUS - Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het die maand gesê die arbeidsmagverslag se opname vir die derde kwartaal van 2024 getuig van volhoubare, inklusiewe ekonomiese groei en betekenisvolle werkskepping in Suid Afrika.
LP Dr Vicky Knoetze, die DA se leier van die opposisie in die Oos-Kaapse wetgewer, sê egter dringende hervormings is nodig om die greep van werkloosheid in die Oos-Kaap te breek, die provinsie met meeste werkloosheid in die land.
Die kwartaallikse rbeidsmagstatistieke vir Julie tot September, toon dat die Oos-Kaap die enigste provinsie was wat 'n jaar-tot-jaar afname in indiensneming geregistreer het, met 'n verlies van 7 000 poste vergeleke met dieselfde tydperk in 2023.
Vir die mense van die Oos-Kaap het hoë werkloosheid ’n verwoestende werklikheid geword wat talle gesinne van hoop stroop.
Wil graag werk
Mans van alle ouderdomsgroepe vergader elke oggend op die markplein by die taxi-parkeerarea, reg voor die ou Graaff-Reinet Hotel, in die hoop vir 'n los werkie. Dieselfde gebeur in elke dorp in die Oos-Kaap.
In Cradock staan daar daagliks sowat 50 mense onder die bome langs die OVK en as ‘n bakkie net spoed verminder, spring hul dadelik op.
Op die Oos-Kaapse platteland is die impak van werkloosheid, waar die uitgebreide werkloosheidsyfer vir hierdie kwartaal 'n verbysterende 56,6% is, verwoestend.
Gesinne word tot hul uiterste gerek, met elke werklose lid wat bydra tot die las van diegene wat daarin geslaag het om 'n werk te behou.
Eskom se voorgestelde elektrisiteitstariefverhoging van 40% kon nie op 'n slegter tyd kom nie en sal miljoene Suid-Afrikaners druk om ’n onmoontlike keuse te maak tussen om die ligte aan te hou en om kos op die tafel te sit.
Groen lote moet bemes word
DA-leier John Steenhuisen sê vanuit 'n nasionale perspektief word ons aangemoedig om 'n paar groen lote in die jongste werkgetalle te sien, maar versnelde ekonomiese hervorming is noodsaaklik vir volgehoue groei. Beleide soos vennootskappe met die private sektor om beleggings 'n hupstoot te gee, die implementering van gewaagde strukturele hervormings, die oopmaak van vragspoor vir private toegang, en die aanspreek van diensleweringskwessies in plaaslike regering is besig om op nasionale vlak te wen en kan 'n provinsiale impak hê.
Konstruksie alleen het verlede kwartaal 176 000 werksgeleenthede nasionaal bygevoeg, wat die potensiaal beklemtoon vir geteikende hervormings om ekonomiese stimulasie regoor die Oos-Kaap aan te dryf.
Ondersteun entrepreneurs
Knoetze is bereid om met die provinsiale regering saam te werk om 'n robuuste 'Business Starter Toolkit' en ondersteuning vir entrepreneurs in te stel, wat noodsaaklik is om stabiele, arbeidsabsorberende ekonomiese groei te skep.
Hierdie hulp, met die nodige opleiding aan opkomende entrepreneurs en jong sakeleiers, is van groot belang om ekonomiese welvaart in die Oos-Kaap te bewerkstellig.
“Mentorskap aan opkomende sakelui is van indringende belang,” beklemtoon Knoetze.
Daar word ook 'n beroep gedoen op Premier Oscar Mabuyane se administrasie om die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG's) as 'n strategiese raamwerk vir inklusiewe ontwikkeling te ondersoek.
Hierdie benadering, wat doeltreffend in ander streke bewys is, kan geteikende, meetbare vordering dryf en 'n grondslag vir gedeelde ekonomiese groei regoor die provinsie skep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’