CRADOCK NUUS - Talle skole het op 23 April weer aan Wêreldboekedag, 'n jaarlikse viering van alles rondom letterkunde, deelgeneem.
Die eerste Wêreldboekedag is in 1995 gehou om mense aan te moedig om meer te lees en die magiese wêrelde wat boeke kan bied, te ontdek.
Nie net moedig hierdie dag kinders aan om meer van hul gunstelingboeke te lees nie, maar vir lesers van alle ouderdomme is dit 'n dag om na te dink oor die genot van boeke en lees.
Wêreldboekedag is 'n Unesco-inisiatief waarby internasionale organisasies uit die drie groot sektore van die boekbedryf - uitgewers, boekhandelaars en biblioteke - almal betrokke is.
Oor die grootste deel van die wêreld, ook Suid-Afrika, vind hierdie dag elke jaar op 23 April plaas.
Hierdie datum is betekenisvol omdat drie van die wêreld se bekendste skrywers op hierdie datum gesterf het. Hulle was William Shakespeare, Miguel Cervantes en Inca Garcilaso de la Vega.
Vierings by skole
Skole gebruik Wêreldboekedag as 'n wonderlike geleentheid om die dag se onderrig rondom boeke te laat wentel.
Sommige skole nooi leerders om hul gunstelingboek skool toe te bring en die klas te vertel hoekom hulle so baie daarvan hou.
Vir elke onderrigfase is daar is talle kreatiewe maniere waarop fasiliteerders Wêreldboekedag in die klaskamer ingewerk het.
Een van die fantastiese idees het behels dat die dag as 'n fancy dress-geleentheid gevier word, waar leerders aangemoedig is om skool toe te kom geklee as 'n karakter uit hul gunstelingboek.
Die leerders van Laerskool Cradock en die Voorbereidingskool kon op 23 April hul gunsteling boekkarakters uitbeeld, en, nadat mammas reeds weke vooraf beplan en gesoek het vir uitrustings, het die leerders letterlik geskitter in hul onderskeie rolle.
Nie net was die skoolgronde opgehelder en vrolik nie, maar selfs die klaskamers het vol sprokieskarakters gesit.
Intermediêre en seniorfase-leerders kon 'n Wêreldboekdagvasvra geniet met vrae oor boeke soos Alice in Wonderland, Charlotte's Web en natuurlik die uiters gewilde Harry Potter-reeks, en die jonger leerders het 'n avontuurlike afspraak met Die Geheime Tuin gehad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’