GRAAFF-REINET NUUS - Die voortslepende water- en rioolkrisis in Middelburg in die Inxuba Yethemba-munisipaliteit het 'n kritieke punt bereik en bedreig nou die gesondheid en veiligheid van sy inwoners.
Inwoners sukkel nou al etlike weke met onbetroubare watertoevoer en gekompromitteerde sanitasie weens kabeldiefstal en vandalisme by plaaslike water- en rioolpompstasies.
Oos-Kaap Middelandse kiesafdelingsleier en LP, Heinrich Muller, wat in Middelburg woon, het op 16 Oktober 'n dringende beroep op provinsiale regeringsingryping gedoen.
Die langdurige gebrek aan water en swak sanitasie kan lei tot die verspreiding van water-oordraagbare siektes, wat die menslike en veebevolkings nadelig kan affekteer.
Verder loop die landbousektor, wat die ruggraat van Middelburg se ekonomie is, die gevaar om aansienlike verliese te ly weens onvoldoende watervoorsiening vir besproeiings- en ander boerdery-aktiwiteite.
Muller het die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta), Zolile Williams, versoek om dringend in te gryp.
Hy het die volgende stappe dringend aanbeveel:
- 'n Onmiddellike ontplooiing van tegniese spanne om die beskadigde infrastruktuur te herstel en te beveilig.
- Die inwerkingstelling van 24-uur sekuriteitsmaatreëls by kritieke water- en rioolfasiliteite om verdere vandalisme en diefstal te voorkom.
- 'n Omvattende plan moet voorgelê word om noodwatervoorsiening aan geaffek-teerde inwoners en boere te verskaf.
- Samewerking met wetstoepassers om diegene wat die infrastruktuurskade aanrig, vinnig te ondersoek en te vervolg.
- 'n Langtermynstrategie om water- en rioolinfrastruktuur in landelike gebiede op te gradeer en te beskerm, is dringend nodig.
- Gereelde verslaggewing aan die gemeen-skap oor vordering en verwagte tydlyne vir die volledige herstel van dienste.
Die situasie sal fyn dopgehou moet word om te verseker dat hierdie kwessie opgelos word met die dringendheid wat dit verdien.
Muller besoek ook eersdaags ander kleiner gemeenskappe in dieselfde distriksmunisipaliteit wat soortgelyke probleme ervaar.
"Hierdie krisisse mag nie langer voortduur nie; die lewensbestaan van boere, die gesondheid van gemeenskappe en die toekoms van landelike ekonomieë is op die spel," verklaar Muller.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’