NXUBA NUUS - Op 1 Junie het die leerdertjies van Fanie Theron Pre-primêr in Nxuba pragtig gelyk toe hull hulself in swart en wit getooi het om soos Frieskoeie te lyk.
Baie het heeltemal in oulike klein koeitjies verander, met opblaashandskoen-uiers en al.
Daar was selfs ’n paar pastelkleur-melkskommels, en dan was daar die leerders wat sommer ’n melkboksie oor hul koppe getrek het en twee gaatjies vir oë daarin geknip het.
Die personeel by Fanie Theron Pre-Primêr doen altyd moeite om die dag nog meer spesiaal te maak, en het gesorg dat die kinders weer heerlike koppies warm sjokolade kon geniet, wat baie harte warm gemaak het op ’n koue dag.
Die skool bedank vir Wian en Marna Laubscher en Ciske en Erika Bezuidenhout van harte vir die ruim borgskap van vars melk vir hierdie spesiale viering.
“Julle vriendelikheid en ondersteuning het gehelp om ’n onvergeetlike dag vir ons leerders te skep, en ons is werklik dankbaar,” het die skoolhoof, Karin Swart, gesê.
“Dankie dat julle ons gehelp het om Wêreldmelkdag ’n prettige en betekenisvolle ervaring vir ons Fanie Theron-gesin te maak!”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’