CRADOCK NUUS - Die Vukasebenze-sentrum in Cradock is 'n miernes van bedrywigheid midde die ysige wintervakansie. Nie alleen het die welbekende en hoogs-begaafde muurkunstenaar, Luthando Ndabeni, die mure verfraai met kuns nie, maar die klerewinkel het ook 'n nuwe baadjie aan.
Tydens Graaff-Reinet Advertiser se besoek aan die skuiling, het vrolike klere op hangers buite die gebou gewapper.
"Ons sit op 'n daaglikse basis warm wintersklere op hangers en hang dit buite op, en elke dag kom haal iemand anders 'n warm kledingstuk om sommer daar en dan aan te trek," vertel Petra Breytenbach, beheerraadslid van die sentrum in Cradock. "By Vukasebenze bak ons ook vars brode vir spesiale geleenthede op bestelling," vertel Chokka Booysen, beheerraadslid.
Tydens die skoolvakansie neem vroue uit die gemeenskap, beurte om etes voor te berei vir leerders wat gewoonlik by die skole se voedingsskemas inskakel.
"Getalle wissel, maar ons het die motorhuis ingerig sodat elkeen eers rustig sy bakkie of beker sop kan eet," deel Booysen mee.
"Ons is ook trots op ons groentetuin, waar ons vars groente kan oes, deur die somer, om ons ook deur die winter te dra!"
Die sentrum se logo op die buitemuur. Foto's: Petra Breytenbach
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’