RUBRIEK - Ek vertel oom Klaas van die generaal wat hier en daar en waar ook al in Afrika gewerk en getoer het – oral met sy eie kussing. En hoe hy verskoning maak vir dié ekstra bagasie van hom, maar dat hy sê hy kan nie help nie; hy reis nêrens sonder sy eie kussing nie.
Ek sluit af met: "Wat 'n gewoonte!"
Oom Klaas het aandagtig geluister, geglimlag en toe frons hy: "Jong, maar hoe vertel jy dan nou vir my hierdie asof dit 'n vreemdheid moet wees? Waarop rus jy dan jou hoof?"
"Ai Oom, ek stort mos maar sommer neer soos 'n sak aartappels. Waar ek land, rus my kop, al is dit ook bo-op my eie lyf, of op die HAT-woordeboek in 'n boekrak. Deesdae is die koel kombuisvloer in die somer ook nie te versmaai nie. Ek bedoel nou maar - as 'n man moeg genoeg is, is jy mos moeg genoeg, my oom. Om die waarheid te sê, ek vang sommer 'n slapie so sit-sit in 'n geselskap as dit moet ... hang alles af of my oë kan oopbly of nie."
Oom Klaas antwoord: "Ja-nee, maar onthou nou, rus of slaap is een ding. Waarop jy jou hoof rus, is egter 'n heeeeel ander ding, my mens. En dié kan ek vir jou sê: daai generaal van jou het die verskil tussen slaap en hoof rus mos lánkal agtergekom.
"Kyk, dis soos jy sê, 'n man moet net moeg genoeg wees, dan kan jy staan en slaap ook as dit moet. Maar let maar op: waarop jy jou hoof rus, is selfs by honde en katte anders as slaap van moegheid. As jou hond erg is oor jou, dan sal hy dikwels sy kop in jou skoot kom rus, of op jou voet of been of arm. Want selfs 'n hond, of vir daai prys 'n kat, weet van waarop jy jou hoof rus, is nie dieselfde as raak aan die slaap nie.
"Jy rus jou hoof waar en waarop jy veilig en gemaklik voel. Dit is waar jou dag eindig en waar hy begin. En veral: dit is die huis waar jou drome woon en geduldig vir jou wag tot in die nag. Wat is 'n man sonder drome anders as 'n skip sonder bemanning, of reisplanne sonder reisigers, of voete sonder voetspore?
"Die mens is bedoel om te moet droom. En dink net: een kussing wat ál 'n man se drome vir hom bewaar... vir jare of dekades. 'n Man wat oor jare heen vashou aan een kussing, is 'n man wat sy lewenspad sal loop asof hy die pad self eers gebou en toe agterna daai pad begin stap het. Want dis die ding van drome - dis joune en joune alleen.
"Dis waar jy kan luister na jouself, wat het jy, wat wil jy hê - wie is jy en wie wil jy wees - wat pla, wat ontbreek - wat wil jy graag, wat moet jy en wat moet jy nie? Jou drome is jou padkaart wat jy nie altyd in die daglig met jou oë oop kan sien nie, maar mooi uitgestip lê in die kussing waarop jy jou hoof rus.
"Waar jy jou hoof rus, is dikwels waar jy antwoorde vind op raaisels wat in die dag ontstaan. Maar die duidelikste, die kussing waarop jy jou hoof rus, is die kluis met jou drome oor liefde in jou lewe. En as jy baie gelukkig is, is daar iemand in jou lewe wat graag saam met jou wil droom op jou kussing.
"G'n wonder daar is nie net een nie, maar twee, ikoniese liedere wat daaroor gaan. Die eerste dateer terug na 1949 – Hank Locklin se Send me the pillow that you dream on waarmee hy eers in 1958 werklik sukses behaal het - Johnny Tillotson het ook goed gedoen daarmee. En dan natuurlik Dieter Bohlen van Blue System en Modern Talking se Send me the pillow dekades later in 1993 - geskryf vir Bonnie Tyler en het sy dit nie 'n treffer gemaak nie!
"Praat van drome droom en jou lewenspad bou en dan stap... Dieter Bohlen is 70 en ongeveer $70 miljoen sterk – van skooldae af musiek geskryf en gemaak, en is vandag nog aan die musiekmaak. Wonder of hy ook met sy eie kussing reis?"
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’