KAROO NUUS - Die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se algemene waardasierol vir die tydperk 2024 tot 2029, het vroeër vanjaar 'n groot opskudding veroorsaak oor die drastiese verhoging in die geraamde waardes van eiendomme.
Veral huiseienaars in Graaff-Reinet, Willowmore, Jansenville en Steytlerville het hulle ontevredenheid oor die waardasies uitgespreek.
Eienaars kon aanvanklik net tot 11 Maart beswaar aanteken, maar die spertyd is verleng tot 30 April en talle ontevrede eienaars het daarvan gebruik gemaak om kapsie te maak.
Willowmore
Raadslid Ewald Loock sê oor die algemeen is mense in Willowmore baie boos oor die waardasies. Benewens dié drastiese styging was daar, volgens hom, ook ander foute op die waardasierol.
"Sommige skakelhuise met twee verskillende titelaktes is byvoorbeeld as een eiendom gewaardeer terwyl ander eiendomme met een erf wat uit 'n aantal kleiner erwe opgemaak is, as aparte eiendomme gewaardeer is. 'n Lang lys besware teen die waardasierol is na die waardeerders gestuur," sê Loock.
Die munisipaliteit se hoof finansiële beampte, Jimmy Joubert, het bevestig dat almal wat beswaar aangeteken het vanaf dié week terugvoer sal begin ontvang.
Raadslid Ewald Loock van Willowmore sê mense voel die waardasies is te hoog en dan is daar boonop ander foute.
Steytlerville
Hanli Buber, voorsitter van Steytlerville se inwonersforum sê mense in die dorp is ook bitter ongelukkig. Buber sê die waardasies is werklik belaglik omdat 'n redelike klein eiendom met 'n kleinerige tweeslaapkamer huis se waardasie méér as 'n massiewe groot eiendom met 'n behoorlik ontwikkelde kompleks is.
Haar eie eiendom, basies 'n onontwikkelde 42m² erf met 'n eenvoudige eenvertrekgebou, se waarde het van R156 000 na R480 000 geklim. Buber is een van die eienaars wat beswaar aangeteken het. Sy en sommige ander beswaarmakers, het intussen in hul persoonlike hoedanighede terugvoering ontvang, maar sy is glad nie tevrede met hoe die proses hanteer is nie. Volgens haar was die adres van een van haar eiendomme verkeerd op die rol aangeteken.
"Op die rol is die adres van my eiendom in Victoriastraat as 15 Bosmanstraat aangeteken, maar daar bestaan nie eens so adres nie," sê sy. Buber sê toe sy vra dat die adres reggestel word, is sy ingelig dat dit nie gedoen kan word nie.
"Die waardeerder het ook laat weet dat die enorme styging in my ander eiendom se waarde net so gaan bly en indien ek ontevrede daarmee is sal ek appèl moet aanteken. Daar is egter nie eens enige ordentlike verduideliking van hoe ek te werk moet gaan om te appelleer nie," sê sy. "Ek dink dit is seker die antwoord wat almal wat beswaar aangeteken het gaan ontvang, omdat hulle heel waarskynlik hoop dat mense sal moed opgee."
Graaff-Reinet
Die Graaff-Reinet Residents and Ratepayers Association (GRRPA) is van mening dat gedeeltes van die waardasierol nie geloofwaardig is nie en ondersoek moet word.
Baie eienaars het beswaar aangeteken en Michelle Erasmus, voorsitter van GRPPA, het bevestig dat sommige van hulle al terugvoering ontvang het.
Sy sê sommige waardasies is ná besware gewysig, terwyl ander dieselfde gebly het.
Jansenville
Ettiene Keevy, 'n professionele eiendomswaardeerder van Jansenville, sê eienaars van die dorp namens wie hy besware aangeteken het, het nog geen terugvoer ontvang nie. Hyself ook nie. Keevy noem dat daar oor die algemeen nie 'n probleem met plaaswaardasies is nie.
"Hier is baie min besware ingedien teen die waardes wat aan die verskillende plase toegeken is," sê hy. Volgens hom is die waardasies van eiendomme in die dorp self, egter 'n ander storie. "Daar is geen logika aan die manier hoe eiendomme in die dorp waardeer is nie. Die waarde van sommige eiendomme het het met meer as 300% gestyg!"
Hy sê daar is talle vrae hieroor. "Ek as professionele waardeerder verstaan nie hoe die eiendomswaardes in Jansenville bepaal is nie."
Keevy sê dat hy ook heelwat navrae ontvang het nadat die eerste rekeninge uitgegee is omdat daar rekeninge is waar die belasting vanaf R1 500 na R5 800 per jaar gestyg het.
"Hierdie stygings is 'n wesenlike probleem. Dit gaan nie net oor die bedrag waarteen eiendomme waardeer is nie, dit gaan oor die koers waarteen belasting aangeslaan word," sê Keevy.
"Ek sal graag namens my kliënte duidelikheid vanaf die munisipaliteit wil kry."
Krediet
Loock noem dat die hele waardasieproses, insluitend die besware, so gou moontlik afgehandel moet word omdat die nuwe belastingrekeninge in Julie uitgegee is.
"Volgens wet is jy verplig om hierdie nuwe rekening voorlopig te betaal en indien jou waardasie dan na die tyd verminder, sal jy gekrediteer word."
'n Navraag is aan die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit gerig, maar teen saktyd is geen terugvoer ontvang nie.
Hanli Buber se onderontwikkelde 42m² eiendom in Steytlerville is volgens die munisipale waardeerder byna 'n halfmiljoen rand werd.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’