MURRAYSBURG NUUS - Ashley Dokter, bekende van Kokkedoor Vuur en Vlam het onlangs die dorpie Murraysburg besoek en gesorg dat die reuk van heerlike geregte die lug vul.
Dokter is 'n boorling van Murraysburg en het op Murraysburg gematrikuleer. Hy het by die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie (KSUT) gaan studeer om homself as sjef te bekwaam. Hy was gelukkig om in sy eerste jaar 'n studiebeurs vir die res van sy drie-jaar studies los te slaan by iemand wat sy potensiaal raakgesien het.
Dokter vertel dat hy in 1995 by die Mensfees in Murraysburg deur 'n buikspreker/kulkunstenaar verhoog toe geroep is. As kind was dit vir hom absoluut betowerend.
Dit het hom regdeur sy lewe bygebly dat hy tower kragte het en dat iets groots met hom sal gebeur.
"Ek het altyd geweet dat ek nie soos die gewone mens, maar net gaan bestaan nie, nee, iets wonderliks moes met my gebeur."
Wonderlike geleenthede het oor Dokter se pad gekom en hy het dit met beide hande aangegryp. Hy vertel hoedat hy die wêreldbekende Suid-Afrikaanse sjef, Jan Hendrik van der Westhuizen, ontmoet het. Van der Westhuizen het hom saamgeneem Frankryk toe en Dokter het by sy restaurant, Jan, saam met hom gaan kook. Hulle twee is ook saam Kalahari toe om by Klein Jan, by Tswalu, vir die Oppenheimers te gaan kook. Dit was wonderlike ervarings vir 'n Karooseun van Murraysburg!
Toe die geleentheid hom voorgedoen het, het Dokter ingeskryf vir die Kokkedoor Vuur en Vlam 2023-kompetisie van kykNET.
Hoewel hy nie die wenner was nie, het hy baie goed gevaar. Sy innemendheid, vriendelikheid en lekker humorsin het hom geliefd gemaak in elke kyker se hart. So, met 'n bietjie betowering, het Dokter bekendheid regdeur Suid-Afrika verwerf.
By die Murraysburg VLV-vergadering op 10 April het Dokter die maak van 'n heerlike Meksikaanse-wrap met oorskiet skaapboudvleis gedemonstreer. Vir die spoggerige aandete waar talle Murraysburgers onthaal is, het Dokter 'n uithalerspyskaart voorberei.
Dokter het ook teruggeploeg in sy Alma Mater, Hoërskool Murraysburg. Hy het die senior leerders wat verbruikerswetenkap as vak neem, gebruik om hom te help kook. Die leerders het verder blootstelling gekry deur ook as kelners op te tree en het hulle uitstekend van hul taak gekwyt.
Die Murraysburg-gemeenskap wat Dokter se trotse ouers en hul vriende ingesluit het, het heerlik gekuier en gesmul. Dokter is een van Murraysburg se goue seuns en een en almal is baie trots op hom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’