KAROO NUUS - “Is jy ‘n koppie of ‘n bal?” was gasspreker Lynette Beer, se vraag aan Laerskool Unie in Steynsburg op 19 September.
Die Boerevereniging het die geleentheid gereël om geld in te samel vir Marais Steyn Tehuis op Steynsburg.
“Die hele Steynsburg is mos maar dieselfde klomp mense en ons het almal saamgestaan om die dag ‘n sukses te maak,
"vertel Alet Zwiegers, voorsitter van die tehuis se beheerraad. "Die aanbieding het vroue van Middelburg, Hofmeyr, Steynsburg, Molteno en Burgersdorp gelok om vir die dag saam te kuier. Hulle het eers teen sononder weer teruggery huis toe.”
En om te hoor of jy 'n koppie of 'n bal is moet jy maar self een van Beer se praatjies bywoon. “Die lewe is tog soveel pret, maar soms is dit ook so frustrerend! Hierdie is nie jou tipiese 'is jou beker half leeg of half vol' oggende nie. Hier laat loop ons sommer almal se bekers oor," vertel Beer voor die geleentheid.
Na afloop van die oggend was almal dit eens dat dit vet pret was en dat almal vir ‘n slag lekker kon lag.
“Dit was so lekker, ons het ons misgis met die tyd en ons fone was nog afgeskakel. Die manne het begin soek na ons,” vertel die vroue van Hofmeyr wat saamgery het, “maar dit was beslis die moeite werd. Ons het almal positiewe insette in ons besige lewens nodig.”“Dit was ook vir die inwoners van Marais Steyn Tehuis ‘n hoogtepunt," sê Karin Kaltenbrunn, die bestuurder.
Lynette Beer in aksie op die verhoog.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’