HOFMEYR NUUS - Hofmeyr-toerisme het die afgelope week hul heel eerste, uiters suksesvolle, plaastoer aangebied. Dié vyf egpare, vanaf Paarl, Hersham, Upington, Vredefort en Parys het reeds maande vooruit bespreek en die geleentheid het saamgeval met een van dié groep se 60ste verjaarsdag.
Vir hierdie plaastoere hanteer Klipplaatsdrift Safari Lodge die selfsorgverblyf en op die eerste aand, gewoonlik die Maandagaand, word die groep vertel van die omgewing en geskiedenis van Hofmeyr.
Dié beplanning vir die week word dan ook deurgegee.
Die afgelope week het vir groot ervarings gesorg, en op die besoeklys was 'n 4x4-sirkelroete oor die Kleindoornhoekpas, oor Kalkoenkrans, deur Molteno en terug oor die Grootdoornhoekpas verby Maraiskrans en al langs die Vlekpoortrivier af tot terug op Klipplaatsdrift.
Daar is ook n besoek ingewerk na Lousseplaas waar toeriste onder andere selfs die koeie kon melk. Besoekers het dit dan deur die roomafskeier gesit en botter, kaas en karringmelk maak.
'n Ontbyt by Farmhouse en 'n middagete by die ikoniese Victoria Boetiek Hotel is ook ingewerk asook 'n besoek aan die Teviot-soutpanne. Die groep was ook in ekstase oor die geleentheid wat hul op 'n helder maanligaand gehad toe hulle die sterre deur die lens van 'n teleskoop kon bekyk.
Natuurlik was hul besoek aan De Keur op die Brakrivier nog ’n hoogtepunt, nie net omdat die pragtuine en kuns van Rosemary Jordaan 'n nuwe wêreld oopgemaak het nie, maar ook omdat 'n avontuurlike kanorit op die bruisende waters van Karoo River Rafting die dag se grootste uitdagings was.
Dié week se toer word afgesluit met 'n besoek aan The Rabbit Hole waar 'n uithalerkok 'n vyfgangmaal in 'n klein outentieke plaasrestaurant aangebied het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’