ABERDEEN NUUS - Munisipale herstelwerk aan die beskadigde kruisings in Kerkstraat in Aberdeen se woongebied was verlede week goed onderweg, maar sedertdien het daar nie veel gebeur nie.
Beskadigde en gebreekte sementblokke wat leiwatervore bedek, is verwyder en vervang by die betrokke kruisings.
Dit volg na twee inwoners in Kerkstraat in Februarie uit radeloosheid self gebreekte sementblokke by twee aparte kruisings in die straat opgelig en die leiwatervore skoongemaak nadat hulle herhaaldelik erge reënskade moes verduur.
Die twee inwoners, Rabie Gericke en Peter Clifton, se ingrypings het egter die tydelike sluiting van twee kruisings tot gevolg gehad: Kerk- en Cathcartstraat; en Kerk- en Darlingstraat.
Op Maandag 20 Februarie het die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se plaaslike waarnemende areabestuurder, Clive Kombani, bevestig dat herstelwerk aan die kruisings later in die week sou begin. Teen Donderdag 23 Februarie was die kruising in Kerk- en Cathcartstraat reeds ten volle herstel en oopgestel vir verkeer. Die kruising tussen Kerk- en Darlingstraat is ten dele herstel en gedeeltelik oopgemaak vir verkeer.
Intussen is daar ook met herstelwerk by die kruising tussen Kerk- en Jacksonstraat begin. Die gebreekte en beskadigde sementblokke wat dien as brug oor die leiwatervoor, is opgelig en die voor skoongemaak. Teen saktyd op Woensdag 1 Maart was daar nie verder vordering nie.
Herstelwerk by Kerk- en Jacksonstraat is steeds onderweg. Foto's: Alex Lombaard
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'