KAROO NUUS - Die voortvlugtige, wat van 30 Augustus tot 8 September polisielede, plaaswerkers en sekuriteitsbeamptes ontduik het, is Vrydag 8 September in hegtenis geneem.
Andrew Kroukamp (28) is vir ondervraging in die moordsaak van Thys van Niekerk, gesoek en is rondom 10:30 op die plaas Goedehoop in die Hofmeyr-distrik, in die veld, deur plaaswerkers vasgetrek.
Kroukamp, het op 'n plaas in die omgewing, waar sy ouers steeds woon, grootgeword. Hy het by vele plaaseienaars gewerk en het hy dus die area baie goed geken.
In die agt dae na die moord, het die boere en hul werkers, die omliggende gemeenskappe van Cradock en Hofmeyr gefynkam, op soek na hom. Elke keer het hy hulle ontglip.
Eerste leidraad lei tot inhegtenisname
Die boeregemeenskap van Hofmeyr het Donderdagaand, 7 September, omstreeks 19:15 die verdagte opgemerk en 'n WhatsApp-boodskap deurgestuur na 'n plaaseienaar, wat graag anoniem wil bly.
"Hofmeyr het voortdurend probleme met selfoonseine en wanneer die krag af is, is daar ook geen sein nie. Ek het dus dié boodskap eers die volgende oggend gekry. Daar is dadelik 'n boodskap uitgestuur dat alle werkers binnenshuis moet bly om te verhoed dat daar onnodig spore in die area getrap word.
Ons kon dadelik vir CDK-sekuriteit in kennis stel van die situasie en hoewel die vermeende moordenaar reeds vroegoggend op vlug geslaan het, kon ons werkers vir ons sê in watter rigting hy gevlug het," sê die anonieme plaaseienaar.
In 'n spanningsvolle verloop van gebeure het die verdagte direk in die werknemer van die buurplaas se rigting gehardloop en het die jongman hom daar vasgetrek. Hy is op die toneel in hegtenis geneem.
Stefan du Plessis, voorsitter van die Hofmeyr-boerevereniging gee alle lof aan die boere, hul vroue en werkers wat opgetree het, in samewerking met CDK-sekuriteit en plaaslike polisie.
Kroukamp het Maandagoggend, 11 September, in Cradock-landdroshof verskyn. Hy het ook vir twee vorige aanklagte van roof en veediefstal voorgekom. Die saak is tot 18 September uitgestel. Hy bly in aanhouding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’