GRAAFF-REINET NUUS - Moenie dink Karookinders ken nie water nie, en kan nie swem nie.
Die 16 jarige Kate-Lynn Kruger, 'n gr. 10-leerder aan Hoër Volkskool, het by die SA Nasionale Junior Ouderdomsgroep Swemkampioenskappe wat van 25 tot 29 April by die Universiteit van Wes-Kaap in Belville aangebied is, as een van Suid Afrika se nasionale junior kampioene uitgeblink.
Sy behaal derde plek in die 200 m borsslag, die sesde plek, in die 100 m borsslag die negende plek, en in die 50 m borsslag die 10de plek.
Kleuregala
Kate-Lynn het reeds in Januarie by die skool se kleuregala opslae gemaak.
Sy het aan ses items deelgeneem en in al ses die rekords verbeter - 'n uitsonderlike prestasie. Vyf van die ses rekords was haar eie wat sy self verlede jaar opgestel het.
Die 50m vryslagrekord was dié van Geraldine Chapman van 2001. Sy is na afloop van die gala as die victrix ludorum aangewys.
Interskole
Vervolgens het sy by die interskole gala op 11 Februarie die volgende rekords verbeter: 4 x 25m individuele wisselslag, 50m vlinderslag, 50m rugslag, 100m vryslag, 50m borsslag en 50m vryslag.
Kate-Lynn het die besonderse prestasie behaal om in al ses items waaraan sy deelgeneem het, die rekords verbeter, en het hiermee ook die victrix ludorum ingepalm.
Die Karoogala is op 19 Februarie by die swembad van Hoër Volkskool aangebied en hier verower sy die victrix ludorum as die enigste swemmer op hoërskoolvlak wat twee rekords kon verbeter.
Toekomsplanne
Kate-Lynn se lewensdroom is om medies studeer en dan in narkose te spesialiseer.
"Dit sal absoluut amazing wees om volgende jaar 'n vlak verder te kan vorder na die senior nasionale kompetisie," sê die uitblinkswemmer.
Kate-Lynne Kruger, Graaff-Reinet se uitblinkswemmer. Foto: Robin Terblanche
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’