ABERDEEN NUUS - Die vroue van Aberdeen skrik nie vir die Karoo se koue nie. By hul vergadering op 11 Junie het Aberdeen VLV weereens gewys dat hulle 'n spilpunt is van vrouekrag, kreatiwiteit en diensbaarheid in die gemeenskap.
Die vol program het lede inspireer en uitgedaag om 'n verskil te maak.Na voorsitter Lea van der Vyver se hartlike verwelkoming, het Karin Pienaar geopen met 'n boodskap uit Spreuke 31, waarin vroulike waardigheid, krag en diensbaarheid beklemtoon word.
Verslag is gegee van die uiters suksevolle kosstalletjie wat die span flukse VLV vroue by die Aberdeen Boereverening se Kuddedag op 5 Junie gehad het.
Die fondse wat daardie dag ingesamel is, was ten bate van Aalwynhof Ouetehuis.
Toe die tak die Aberdeen Hospitaal onlangs besoek het, het dit hul kommer gewek toe hulle sien hoe min beddegoed daar by die hospitaal beskikbaar is.
Die tak se volgende groot projek is dan ook om beddegoed en linne vir die hospitaal in te samel.
Luise de Jager, die sameroepster van gesondheid, het weer gewaarsku dat dit lewensbelangrik is om voorbereid te wees wanneer 'n noodgeval die huishouding tref.
Daarvoor is 'n goed toegeruste noodhulptas-en-medisynekas in elke huis noodsaaklik.
"Dit kan lewens red," het sy gesê voordat sy 'n lys deurgegee het waarsonder geen medisynekas volledig is nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’