WILLOWMORE NUUS - Wanneer 30 voete in ritme saamstap, organiseer die vroue van die VLV-tak in Willowmore sommer saam.
Die VLV tak se jaartema is immers ‘Ons krag lê in spanwerk’.
Jackie Barnardt, voorsitter van die tak, vertel dat die vroue op 26 Mei, as deel van die Kunste- en Handvlytportefeulje, die strate van Willowmore deurkruis het om muurskilderye te besigtig.
“Die 15 dames het 10 muurskilderye gaan besigtig. Muurskilderye deur Fourie Ackermann; die trein, ’n buffel, ook Zaayman se motor, die Protea, die Karoo-landskap en die kudu, het groot belangstelling gelok.
Annette Louise se muurskilderye van die Willow Limo, die leeu, Toorwater, die donkies en die gemsbok deur Mook Lion, asook die kuns by die Educare Sentrum waar Con-Roy Booysen gehelp het, is ook besigtig. Adel Bansemer was behulpsaam met die reëlings.
Boerseep
Na die kunswandeling het Sonnet de Jager van Zuurberg by haar besigheid, Old Thyme Boerseep, die dames vertel van haar tuisgemaakte seep.
De Jager vertel dat haar suster, Hannetjie Gawler van Danabaai, in 2019 in haar klein kombuisie begin het om seep te maak.
“Sy het slegs ’n stoompot gehad, en later nog een aangeskaf en haarself geleer seep maak, eers op klein skaal. Haar besigheid het so gegroei dat sy later ’n seepkamer moes aanbou,” vertel de Jager.
“Ek het ook baie belanggestel in die seepmakery, en het eksperimenteer om ’n gel en ’n reiniger te maak.”
De Jager het besluit om die besigheid in 2024 te koop.
“In Januarie 2025 het ek die besigheid oorgeneem en weggespring met seepmaak. Ek is ook deur dieselfde groeipyne en het baie uitdagings in die gesig gestaar. Ons het Old Thyme Boerseep as ’n handelsmerk geregistreer en ons het begin om die boerseep na ’n hoër vlak te neem. Ek het al hoe meer produkte wat vir die huisvrou tot voordeel kan wees, uit die seep gemaak. Vandag is ek baie trots op ons reeks en wat ons reeds bereik het. Ons lewer reeds landwyd seep.”
Vrouekomponiste
Aan huis van Irma Liebenberg, wat ’n doktorsgraad in musiekwetenskap het, was die dames meegevoer deur haar belangstelling in vrouekomponiste van Afrikaanse kinderliedjies, veral van dié wat in die FAK opgeneem is.
Haar studie spreek die stilswye aan van groter erkenning vir die vrouekomponiste vir hul opnames in die FAK-bundels.
Irma het ’n passie vir kinderliedjies.
Die middag is afgesluit met ’n heerlike ete en gesellige samesyn by Kapoet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’