ABERDEEN NUUS - Lizé de Jager, Aberdeen VLV-tak se leefstylsaamroeper, was die gasvrou vir die tak se Julie-byeenkoms en het vanjaar die dames met 'n uitstappie na Murraysburg verras.
Drie uitsonderlike gastehuise, elk met 'n eie ontstaanstorie, is besoek.
Die eerste stop in Murraysburg was Lindie Venter se Oppiehoekie gastehuis en koffiewinkel, Die Workshop @ Oppiehoekie. Die gastehuis en koffiewinkel word gekenmerk deur Venter se kreatiewe talent en die oudhede skep 'n warm atmosfeer.
Venter en haar man het die rug gekeer op 'n veeleisende beroepslewe in Pretoria, toe hulle die Karoo se roep beantwoord en hulle in Murraysburg kom vestig het.
Stilsit is egter nie deel van Venter se leefstyl nie en vind sy ook tyd om 'n reeks tuisgemaakte produkte, Karoo Deli'sh, te bemark en kan skaars voorbly met bestellings.
Met hul vertrek op pad na die tweede stop, kon die besoekers Venter se boodskap net beaam: "Die Karoo spoel jou hart skoon en maak jou mens."
Michelle Swiegers, eienaar van Colonial Karoo Boutique Guesthouse was volgende op die lys. Met geen eetplekke op Murraysburg nie, voorsien Swiegers self etes aan haar gaste. 'n Knetterende kaggelvuur op die koue winterdag het die besoekers verwelkom.
Hierdie gastehuis se leefvertrek met pragtige skilderye en foto's deel die kollig met die stylvolle, gesellige eetkamer waar die besoekers getrakteer is op 'n eksotiese middagete.
By die Jewel-stofie het die besoekers behoorlik weggelê aan 'n Marokkaanse Tagine-lamsgereg met appelkose en dadelkoeskoes en 'n heerlike nagereg. Swiegers en haar man, Jan-Hendrik, het teruggekeer na sy geboortedorp toe hulle ook 'n besige lewe in die Paarl verruil het vir die Karoo.
Sophia van Heerden se Prickly Pear Guesthouse was die groep se laaste stop. Van Heerden het 'n vervalle gebou in die dorp gekoop en omskep dit nou in ses wooneenhede.
Elke huisie het 'n eie tema waarin kleur en luuksheid gemeng word met Karoo elemente in 'n speelse styl; van 'n pienk kombuis tot treffende muurpapier in elke slaapkamer.
Van Heerden bedryf ook 'n ander suksesvolle besigheid, Sophia's Roses, op hul plaas buite die dorp. Sy glo elke mens moet self die verandering wees wat hy of sy wil sien en om ook mooi te maak waar jy gaan - vandaar die projek met die vervalle gebou.
Van Heerden moedig vroue aan om te doen waarvoor hulle lief is en om "uit te hou en aan te hou, ten spyte van uitdagings".
Voor van links: Tanya Gouws, Carina Esterhuizen, Elise Steynberg, Alet Gouws, Leticia van der Ahee, Maritza Schoeman, Lize de Jager, Suzanne Lategan en Heidi Lombard. Agter: Karen van Rensburg, Retha Lategan, Petro Marx, Thea Paxton, Lea van der Vyver en Joyle Smit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’