CRADOCK NUUS - By Hoër Landbouskool Marlow is die manne vroeg wakker - en ook maar goed so, want dit is hieraan te danke dat kabeldiewe douvoordag by die spilpuntstelsels in die lande vasgetrek kon word.
Op Donderdag 2 April, om 05:40, is verdagte aktiwiteite by een van die boerdery se spilpunte by die beheerkamer van Smhart Security aangemeld.
Reaksiebeamptes is onmiddellik na die toneel, sowat 5 km uit Nxuba (Cradock).
Volgens inligting wat op die toneel aan die reaksiespan deurgegee is, het die kliënt op pad na die melkery verdagte beweging by die spilpunt opgemerk.
Die reaksiespan het ondersoek ingestel en drie verdagtes op die perseel vasgetrek.
Die verdagtes is in besit van kabels gevind wat reeds by die spilpunt afgesny was. Hulle is aangehou totdat polisie by die toneel aangekom het.
“Drie verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagte van kabeldiefstal. Hoër Landbouskool Marlow het onderneem om ’n saak aanhangig te maak, en die beskuldigdes sou Dinsdag 7 April in die landdroshof op Cradock verskyn,” het die woordvoerder van Smhart Sekuriteit op Nxuba gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’