GRAAFF-REINET NUUS - Vier olifante is veilig vroegoggend op 6 Maart in die Samara Karoo-reservaat vrygelaat ná hul verskuiwing vanaf die Addo-olifantpark in die Oos-Kaap.
Die tog Samara toe was egter nie sonder sy probleme nie. Die vragmotor wat die olifante vervoer het, het op 5 Maart op die N10 by die Olifantskop-pas ’n ongeluk gehad.
Die professionele wildverplasingspan, veeartsenykundige span, vrylatingspan en Samara se eie span was ter plaatse om die olifante te monitor en hul veiligheid deur die ongeluk te verseker.
Die veeartse het bevestig dat die olifante nie in die ongeluk beseer is nie, en hulle het met geen sigbare tekens van wonde van die vragmotor af die reservaat ingestap.
Die olifante sal voortaan fyn dopgehou word om hul gesondheid en welstand te verseker terwyl hulle hulself in hul nuwe tuiste vestig.
Samara se woordvoerder, Theresa Gibbon, het tydens ’n onderhoud met die Graaff-Reinet Advertiser gesê dat hierdie olifante na Samara oorgeplaas word onder ’n inisiatief om ’n bevolking van olifante op ’n nuwe deel van die reservaat te stig, wat na raming 150 jaar lank nie meer olifante het nie.
Sy sê hierdie verskuiwing vorm deel van breër olifantsbewaringsmaatreëls binne Suid-Afrika, om die habitat wat vir hierdie diere beskikbaar is sodat hulle kan floreer, uit te brei.
As een van die Oos-Kaap se grootste privaat reservate, wat 27 jaar lank nou saam met kundige ekoloë en dierkundiges gewerk het, is die Samara Karoo-reservaat in ’n goeie posisie om ’n toevlugsoord aan hierdie saggeaarde reuse te bied.
Sarah Tompkins, medestigter van Samara, sê: “Ons is ongelooflik dankbaar dat die olifante veilig is, en dat daar na baie maande se beplanning nou nog vier olifante is wat deur die Samara-landskap rondloop.
Samara stel die sorg wat die span tydens die ongelukkige voorval aan die diere gegee het, hoog op prys.
Die veiligheid en welstand van die vragmotorbestuurders en die olifante was gedurende die voorval die span se eerste prioriteit.
Ons was nederig oor die manier waarop nabygeleë reservate ons bygestaan het, bykomende toerusting geleen het om die olifante se welstand te verseker, water en kos aan die span geskenk het en met die organisering van die logistieke gehelp het.
Die kameraadskap van die bewaringsgemeenskap is ongeëwenaard. Ons wil ook die publiek vir hul bemoedigende boodskappe van ondersteuning bedank, asook diegene wat deur die padsluiting geraak is, vir hulle geduld.”
Die Samara Karoo-reservaat is ’n bewaringsonderneming wat in 1997 begin is om die Groot-Karoo-landskap te herwild in ’n nuut herwonne wildernistuiste vir alle historiese spesies wat hier gevestig was, insluitende olifante.
Tompkins sê hulle bly verbind tot biodiversiteitsbewaring en grondherstel wat deur fotografiese toerisme gefinansier word.
Oor die Samara Karoo-reservaat
Die bekroonde Samara Karoo-reservaat beslaan 67 000 ha se wedergebore wildernis, 53 km vanaf Graaff-Reinet. Samara is een van Suid-Afrika se mees diverse safaribestemmings, bestaan uit vyf plantegroeibiome oor treffend uiteenlopende topografie, en is die tuiste van meer as 60 soogdierspesies, insluitend die Groot 5, jagluiperds, erdvarke en groot troppe woestynaangepaste wildsbokke, sowel as 225 voëlspesies.
Samara streef daarna om volhoubare bewaring, gemeenskapsbetrokkenheid, kultuurbewaring en handel te bevorder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’