KAROO NUUS - Die ontvoering van Alize van der Merwe op 20 September tussen Oos-Londen en Port St Johns, en haar vrylating op 26 September, toe sy en 'n Chinese vrou by Sulenkama in Qumba afgelaai is, was die afgelope twee weke groot nuus.
Die voertuig wat glo by beide dié ontvoerings betrokke was, 'n Toyota Rumia, is in Cradock gevind, na dit op 26 September in Frerestraat in die dorp deur sekuriteitskameras opgetel is.
'n 32-jarige man en 'n 34-jarige vrou, albei insittendes van die Rumia, is in hegtenis geneem en hulle het Maandag 30 September in die Cradock-landdroshof verskyn.
Vier ander vermeende ontvoerders is die dag voor Van der Merwe se vrylating, Woensdag 25 September, deur die polisie doodgeskiet en 'n vyfde is gewond.
Mike Bolhuis en ander plaaslike sekuriteitspanne in verskeie dorpe was ook betrokke by die soektog na Van der Merwe. Talle padblokkades is verlede week in die Oos-Kaap geaktiveer, terwyl polisievoertuie deurgaans die strate en toegangsroetes na Graaff-Reinet en Cradock gepatrolleer het.
Van der Merwe en die Chinees is helder oordag om 12:15 op 26 September afgelaai.
Adjudant-Offisier Majola Nkholi sê die wereld het heel waarskynlik te warm vir die ontvoerders geword. "Die polisie en soektog het al hoe nader aan die kriminele beweeg en die ondersoek is heel moontlik té effektief na die ontvoerders se smaak hanteer.”
Daar is groot kommer oor die veiligheid van mense wat deur die Oos-Kaap reis, veral toeriste en vroue. Nkholi sê ‘n taakspan bestaande uit misdaad-intelligensie, die Valke, die provinsiale SAPD opsporingsnetwerk, ontvoeringsonderhandelaars, die nasionale ingrypingseenheid en taktiese reaksiespanne, fokus daarop om hierdie tipe misdade in die Oos-Kaap hok te slaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’