CRADOCK NUUS - Vyf verdagtes is die afgelope naweek in hegtenis geneem nadat hulle na bewering koper gesteel het.
Volgens Brett Barlow van die Navic-kamerasisteemfirma, het die polisie bewus geraak van 'n voertuig wat na bewering by koperdiefstal betrokke was.
Die voertuig, 'n goue Mercedes, met 'n KwaZulu-Natal registrasienommer, is op aanvraag van die polisie deur die Navic-sisteem gevind.
"Die voertuig is Vrydagoggend om 03:45 deur 'n kamera opgemerk en die CDK-sekerheidsfirma in Cradock en die polisie is in kennis gestel. Daar is probeer om die voertuig tot stilstand te dwing, maar 'n jaagtog het gevolg en die voertuig het in Frerestraat naby die N10-kruising met 'n boom gebots.
Vyf verdagte persone het uit die voertuig gespring en op die vlug geslaan. Die sterk teenwoordigheid van die CDK-span en die polisie het egter korte mette gemaak met die situasie en al die verdagtes is kort daarna aangekeer en gearresteer."
Volgens hom is 'n groot hoeveelheid koper in die bagasieruim en sleepwa van die voertuig gevind. Die oorsprong van die koper is nog onbekend.
'n Navraag is aan die polisie gestuur, maar teen druktyd het hulle nog nie gereageer nie.
Die goue Mercedes wat teen 'n boom gebots het.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'