GRAAFF-REINET NUUS - Nadat die Graaff-Reinet polisiediens op Maandag 2 Desember, inligting ontvang het dat twee voertuie met sleepwaens vol gesteelde items in die rigting van Graaff-Reinet vanaf Kwanonqaba in Mosselbaai reis, is ‘n taakspan in samewerking met CDK Gewapende Reaksie geaktiveer.
Sowat 20 minute later is die voertuie in Graaff-Reinet by die plaaslike Shell-vulstasie onderskep.
Die voertuie en agt verdagtes is na die polisiestasie geneem waar verskeie vermoedelik gesteelde goedere gevind is.
Die polisie het beslag gelê op 2 hommeltuie, 4 bromponies, 4 Go-Pro kameras, 2 stelle bluetooth oorfone, 3 stelle kamerafilters, 1 selfoon, 1 TV en een tablet.
Die waarde van die items is sowat R200 000.
Een verdagte is gearresteer vir die besit van gesteelde eiendom en sewe omdat hulle ongedokumenteerde buitelanders is.
Die plaaslike provinsiale verkeersdepartement, die SAPS K9-eenheid, die operasionele kommunikasiesentrum en die SVE-eenheid in samewerking met CDK Gewapende Reaksie is geloof vir hul flink optrede.
Verdagtes is op die toneel gearresteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’