GRAAFF-REINET NUUS - Daar heers ernstige kommer oor die krisis van polisievuurwapens wat wegraak of gesteel word in die Oos-Kaap, wat inwoners aan selfs groter risiko blootstel te midde van reeds stygende misdaadvlakke.
Yusuf Cassim, skaduminister vir gemeenskapsveiligheid, het op 4 April sy kommer gedeel oor die klaarblyklike verdwyning van polisievuurwapens in die Oos-Kaap.
Polisievuurwapens gesteel
Xolile Nqatha, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het in antwoord op 'n parlementêre vraag onthul dat 'n verbysterende 410 SAPD-vuurwapens oor die afgelope vier boekjare as vermis of gesteel in die provinsie aangemeld is.
Hiervan 65 direk vanaf polisiestasies gesteel en 297 direk van SAPD-beamptes - 'n totaal van 362 vuurwapens.
'n Verdere 48 vuurwapens is sonder duidelike verduidelikings as vermis aangemeld.
Sowat 232 van hierdie wapens is sedertdien teruggevind, maar daar is ten minste 130 vuurwapens waarvan geen rekenskap gegee kan word nie.
Kommerwekkend
Cassim sê die tipe wapens wat weg is, is baie kommerwekkend.
Onder dié wat gesteel is, was minstens 164 Beretta-pistole, 131 Vektor Z88-pistole, 26 Vektor R5-aanvalsgewere, saam met Musler-haelgewere, Walther-pistole, FN-gewere en Glock-pistole.
"Dit is nie kleinkaliberwapens nie; dit is vuurwapens wat ontwerp is vir gevegte en wetstoepassing, nou waarskynlik in kriminele hande deur pure nalatigheid en swak beheer," sê Cassim.
Geen opsporingstelsel
Nog erger, sê hy, die SAPD het bevestig dat daar nie 'n sisteem in plek is om vas te stel of enige van hierdie gesteelde of vermiste vuurwapens in die pleging van 'n misdaad gebruik is nie.
"Wat die meeste kommer wek is dat die provinsiale kantoor vir kontrolering van vuurwapens, drank en tweedehandse goedere gesê het dat daar geen databasis is om sulke inligting uit te put nie.
Dit is 'n skokkende aanklag van die SAPD se vermoë om die einste wapens te beskerm wat aan hom toevertrou is om te dra, en 'n volslae mislukking in bestuur," sê Cassim.
Dringende optrede nodig
Cassim eis dringende en beslissende optrede om hierdie krisis aan te spreek.
Hy onderneem ook om 'n mosie by die wetgewer in te dien vir die aanvra van 'n volledige oudit en ondersoek na elke vermiste of gesteelde vuurwapen, met dissiplinêre stappe teen SAPD-lede waar nalatigheid gevind word.
Daar sal ook gevra word vir die onmiddellike daarstelling van 'n sentrale, deursigtige opsporingsdatabasis om vermiste wapens aan kriminele voorvalle te koppel en vir onafhanklike toesig oor vuurwapenberging en -hanteringsprosedures binne die SAPD.
"Gemeenskappe regoor die Oos-Kaap verdien om te weet dat hul veiligheid nie deur polisienalatigheid ondermyn word nie.
Die feit dat honderde vuurwapens sonder behoorlike aanspreeklikheid of opsporingstelsels uit polisiebesit verdwyn het, is 'n verraad van die publiek se vertroue," sê Cassim.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’