NXUBA NUUS - Die Etienne van Heerden-veldsoirée in Nxuba (Cradock) was die afgelope naweek, van 24 tot 26 Julie, weer propvol hoogtepunte.
Skrywers en lesers kon mekaar in ’n gesellige omgewing ontmoet om kennis, idees en insigte te deel.
Darryl David, ’n prominente Suid-Afrikaanse akademikus, skrywer en organiseerder van literêre feeste, het vanjaar se veldsoirée as die beste nóg bestempel.
“Die Tuishuise was vol bespreek. Die Victoria-eetsaal moes ekstra tafels inbring. Buffelskop Lodge was ook stampvol.
En hoe goed is daar nie vir elke gas gesorg tydens ons jaarlikse pelgrimstog na Olive Schreiner se sarkofaag nie!
Wat ’n absolute hoogtepunt, ongeag hoe gereeld ek dit meemaak,” het David na afloop van die fees aan Graaff-Reinet Advertiser gesê.
Die lokale was deurgaans vol, al het sommige sprekers, soos Izak de Vries en Etienne van Heerden, se sessies tot diep in die nag voortgeduur.
“Elkeen het elke minuut van die fees geniet,” het David vertel.
Volgens kenners was een van vanjaar se groot hoogtepunte Riana Scheepers se aanbieding van “Die Durbanse Poepwedstryd”.
David het dit raak opgesom toe hy gesê het dat “net Scheepers so iets sal kan vermag”.
“Riana was op die kruin van haar vermoëns toe sy vanjaar se fees afgesluit het. Jy sal moeilik ’n meer perfekte afsluiting vir so ’n absoluut volmaakte fees vind.”
Andries Bezuidenhout het Vrydagaand ’n uitmuntende sessie aangebied, waarna Rhodes-studente die hele naweek - en selfs deur die nag - liedjies van André “Roof” Bezuidenhout gesing het.
“Wat ’n pragtige oomblik was dit nie toe Bezuidenhout aan die einde van die naweek met die Orde van die Windpomp vereer is nie.
Daar is gewoonlik groot afwagting oor dié toekenning, want dit is spesiaal - die ontvanger verpersoonlik immers die gees van die soirée, in lewe én in woorde.”
Refiloe Moahloli het ’n emosioneel gelaaide sessie oor haar skryfreis aangebied waartydens sy die uitdagings op haar skryfpad gedeel het.
Haar spontane weergawe van “Boom Shaka” aan die einde van die sessie het die gehoor se harte gesteel.
Frederik de Jager se uiters briljante praatjie oor kunsmatige intelligensie (KI) en Narcissus het luisteraars verstom.
Daar was natuurlik talle ander hoogtepunte, met Anschen Conradie, Rika Nel, Andile Bhali, Tom Dreyer, Charl-Pierre Naudé en vele ander wat bygedra het tot wat volgens David die beste Etienne van Heerden-veldsoirée nóg was.
Besprekings vir verblyf tydens die 2027-veldsoirée het reeds geopen.
Gashere wat besondere erkenning verdien, sluit Dirkie en Rosealeen Visser van Buffelshoek, David en Lisa Ker, asook die hele span van Victoria Manor en Die Tuishuise in.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’