GRAAFF-REINET NUUS - Die Afrikaanse Christen Vroue Vereniging (ACVV) is in 1900 in Cradock begin en in 1904 amptelik in Kaapstad gestig.
Cradock ACVV lewer reeds vir meer as 120 jaar onbaatsugtige diens in die dorp en omliggende gemeenskappe.
Hul jaarlikse veiling is op 26 November in die Cradock-skousaal gehou.
Carin Janse van Rensburg, streeksbestuurder van die Oos-Kaap Middellande, sê inwoners word vroegtydig gevra om hul store en kaste reg te pak en bring dan allerlei items om te verkoop. Enigiets word opgeveil: van ‘n teelepel tot ‘n kar.
Die kommissie van die veiling gaan vir die twee kinderhuise van die ACVV, maar daar is ook baie mense wat items skenk vir die kinderhuis wat dan verkoop word.
Coosie Crouse van die skoukomitee is altyd bereid om te help en oop en toe te sluit, terwyl items vanuit alle oorde afgelewer word.
Janse van Rensburg sê getroue kopers daag jaar na jaar op. "Hou gerus sosiale media dop, want volgende jaar maak die ACVV in Cradock weer so!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’