KAROO NUUS - Meryem Belkihel (29) het die afgelope week te fiets deur die Oos-Kaap gereis na meer as 20 000km van Marokko na Kaapstad en 20 lande in 18 maande - alles op haar fiets.
Haar reis, wat te sien is op sosiale media, het uitdagings soos malaria, fietskwessies en visumvertragings ingesluit, maar ook hoogtepunte soos die skoonheid en gasvryheid van Angola.
Meryem, wat op 18 Augustus in Hofmeyr oornag het, beplan om voort te gaan met haar verkenning van Afrika en ook Lesotho te besoek.
Meryem Belkihel, wat in Januarie 2023 uit haar geboorteland, Marocco vertrek het, skroom geensins om kleiner dorpies te verken nie. Sy slaap maklik snags in haar eenmanstentjie iewers oor, maar in die Oos-Kaap is daar oral langs haar roete vir haar veilige verblyf gereël en sommer twee lekker warm etes ook.
Sy het op Saterdag 29 Junie 'n foto van haarself by die ikoniese geel raam by Eden on the Bay in Bloubergstrand geplaas met die woorde: "Prys aan God, veilig aangekom in Suid-Afrika na 'n jaar en 'n half, en meer as 20 000km en twintig lande."
Op haar reis het sy Kameroen, Ivoorkus, Demokratiese Republiek van die Kongo, Nigerië, Angola en Namibië besoek. Haar roete na Lesotho is fyn beplan, maar soms wyk sy af om op die ingewing van die oomblik 'n spesiale draai te ry.
"Dit het my 18 maande geneem om Kaapstad te bereik, want ek probeer elke land deeglik verken. Van Hofmeyr reis ek na Burgersdorp en ek beplan om na Mosambiek te reis en voort te gaan om die oostelike deel van Afrika te verken," sê sy. "My volgende ruskans sal in Lesotho wees."
Hoogtepunte
"Vir my is elke dag 'n hoogtepunt, maar een van my spesiale besoeke was aan Angola, waar die skoonheid van die land en die vriendelikheid van die mense my oorweldig het. Taal het my nog nooit gebriek nie."
Meryem is passievol oor avontuur en om diverse kulture van Afrika te verken. "Een van my doelwitte is om Kilimanjaro te klim en meer vroue langs die pad te bemagtig," sê sy. "Oral in die Oos-Kaapse klein dorpies het ek hierdie geleentheid gehad. Die vroue in die afgeleë platteland staan verstom wanneer hulle hoor van my reise, en dit gee ook aan hulle hoop dat hulle eendag hul eie omstandighede sal kan aanspreek."
"Vir inspirasie op hierdie reis," sê sy, " het ek die ongelooflike ondersteuning van my familie, vriende, sosiale media vriende en die mense in elke gemeenskap en dorpie waardeur ek reis." Sy noem egter dat sy ook al nyd en negatiewe kommentaar ervaar het, maar elkeen se ondersteuning in elke gemeenskap bly 'n bron van krag vir haar.
"Ek ry my eie tee vanaf Marocco saam en drink graag saam met my gashere- en -vroue 'n koppie tee om ons vriendskap te verewig. Dit was vir my 'n groot voorreg om saam met Ferdi en Ronel Gouws op Hofmeyr te kuier en ons lewenservarings te deel."
Maryam Belkihel voor die pienk kerk in Hofmeyr.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’