Warning: Graphic content
GRAAFF-REINET NUUS - 'n Onlangse uitbreek van die gevreesde Parvo-virus (katgriep) by die hokke van Graaff-Reinet Animal Welfare Society (GRAWS) en ook in dele van die dorp het ondermeer tot die dood van agt honde by die skuiling gelei.
Verskeie inwoners het Graaff-Reinet Advertiser genader om kommer uit te spreek oor die toestand by die skuiling wat na bewering reeds 'n paar maande duur.
Wat is Parvo-virus
Katgriep is 'n hoogs aansteeklike siekte wat veroorsaak word deur die canine parvovirus (CPV).
Die virus tas die dermkanaal van veral jong honde aan. Tipiese simptome van katgriep sluit in aanhoudende braking, skuim om die bek, diarree wat bloederig raak, buikpyn en ontwatering, aldus dr. WJ Grobler (BVSc) van Bergbosvet.
Herstel in honde met katgriep is moontlik indien hulle dadelik behandel word. Die enigste manier om die virus te bekamp is intensiewe ontsmetting en reiniging met spesifieke ontsmettingsmiddels soos F10SC.
Persoonlike beskermingstoerusting soos klere, handskoene en skoene moet ontsmet word.
Dit het by die skuiling gebeur
Volgens een van die inwoners, wat kennis dra oor wat by die skuiling aan die gang is, is die eerste katgriep geval op 25 Oktober gediagnoseer. Die spesifieke hondjie is by aankoms by die plaaslike veearts getoets vir katgriep, het positief getoets en is deur die veearts uitgesit.
"Ons het op 26 Oktober navraag gedoen oor die moontlike ontsmetting en reiniging van die skut en hokke om die verspreiding van katgriep op die perseel te bekamp. Carlin Raath, komiteelid en bestuurder van GRAWS is ook op 26 Oktober ingelig oor die diagnose van die besmette hond. Na bewering is daar op aanbeveling van die veearts besluit om aanvanklik eers die diere by die skut net te monitor en te behandel soos hulle siek word."
Volgens die inwoner is daar ook bewyse dat daar nie genoegsame veiligheidsmaatreëls toegepas is om die verspreiding van die virus by die skut te bekamp nie.
"Daar is bewyse dat perso-neel met besmette honde gewerk het en sonder om te saniteer met gesonde honde gaan werk het."
Op 28 Oktober het hulle op hul sosiale media aangekondig dat daar op dié dag 'n uitreik sou wees waar ander honde behandel sou word - watter voorsorg getref is om moontlike verspreiding van die virus wat by die skut onder lede was te verhoed tydens die gemelde uitreik, is onbekend.
"Uitreiking en versorging van minder bevoorregte diere bly vir GRAWS prioriteit, selfs met beperkte fondse en middele tot hulle beskikking," aldus Raath.
Op 2 November het GRAWS aangekondig dat verdere katgriepgevalle in Asherville, 7de Laan, Kroonvale en Umasezake bevestig is.
"Op daardie stadium het GRAWS reeds die besluit geneem om die veearts se raad te volg en is sewe jong hondjies met katriep uitgesit," sê Raath. Raath het gemeld dat vier ander jong hondjies, wat ook gedurende hierdie tydperk by die skut was, as voorsorgmaatreël in pleegsorg geplaas is en daar dus geen klein hondjies oor is by die skut nie.
Die grafte
'n Besorgde vrywilliger het op 29 Oktober die terrein waar karkasse begrawe word, besoek en ondersoek ingestel.
Die terrein is binne sigafstand van die GRAWS perseel en is nie op enige wyse beveilig nie.
'n Skokkende foto met grafiese detail, wat in die Advertiser se besit is, toon 'n groot gat wat tot grondvlak gevul is met karkasse – sommige in swart vuilgoedsakke en ander onbedek. 'n Betroubare bron en ooggetuie het onmiddellik die half bedekte karkas van die hond, wat aan katgriep gevrek het, asook die kombers wat gebruik was, tussen die ander op die hoop karkasse herken.
Presies hoe die karkas daar beland het, wanneer en deur wie dit daar gelaat is, kon die persoon nie sê nie. Volgens die bron is die karkas en reishok by die veearts se kamers agtergelaat op 25 Oktober nadat die hond uitgesit is.
Die munisipaliteit is in kennis gestel van die ernstige gesondheidsgevaar en by 'n ter plaatse ondersoek deur die munisipaliteit is gevind dat die massagraf intussen toegegooi en met kalk bedek is.
Raath se aanvanklike kommentaar oor waarom die gat so lank oopgelos is met soveel karkasse in die gat en geen waarskuwings dat publiek die terrein moet vermy nie, was: "Al wat ek op die stadium kan sê, is dat die werker wat verantwoordelik is vir die gat nie sy pligte nagekom het nie."
Raath het later wel verder verduidelik dat daardie spesifieke gat op 29 Oktober oop was omdat sy later die dag nog karkasse by 'n veearts se kamers moes gaan haal om ook daarin te begrawe.
"Volgens Raath lewer GRAWS twee keer per week die diens om karkasse van die veearts se kamers te verwyder en te gaan begrawe. Raath het verduidelik dat dieselfde werker wat die gate moet grawe en toegooi, ook verantwoordelik is vir die skoonhou van die hokke en perseel. Raath het ook gemeld dat heinings om die area te beveilig gereeld afgesteel. Ongelukkig laat dit die erkende dierebegraafplaas oop vir mense en rondloperdiere.
Op 6 November is die terrein weer besoek en is daar 'n verdere swart vullissak gevind wat eenvoudig op die terrein agtergelaat is; half oop met die karkasse van ten minste een hond en kat wat half uitgesteek het. Dit is onbekend wie die sak daar geplaas het en of 'n gat gegrawe en die karkasse begrawe en toegegooi sal word.
Alhoewel GRAWS verantwoordelikheid neem vir die grawe van gate en bedekking daarvan vir karkasse waarvan GRAWS se werker ontslae moet raak, kan GRAWS nie verantwoordelikheid vir die hele terrein neem nie, omdat dit toeganklik is vir enigiemand wat daarheen gaan.
Parvo vry
Volgens Raath is die skuiling nou Parvo vry.
"Met die kennels wat nou Parvo vry is, is daar steeds in die woongebiede en by die veeartse honde met Parvo. Parvo is orals en iets wat nooit sal weggaan nie," sê Raath.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'