KAROO NUUS - Deelnemers van heinde en ver was dit eens dat die 'Boere Rally', wat die afgelope week in die Hofmeyr-distrik gehou is, 'n goedbeplande geleentheid was wat deur elke deelnemer geniet is.
"Boere het vanaf Cradock, Molteno, Middelburg, Steynsburg en Tarkastad na Hofmeyr gereis om een van die 35 deelnemende spanne in die tydren te wees," het Sanet Coetzer, sekretaresse van die Hofmeyr-landbouvereniging, vertel.
"Die bestuur van die landbouvereniging, ons puik borge, en elke persoon wat in goeie gees deelgeneem het, verdien lof."
Coetzer het 'n reuse-aandeel gehad om die dag te bemark, borge te bekom, die landbouvereniginglede se vroue te betrek om die etes te beplan en voor te berei. Sy het self ook aan die saamtrek deelgeneem.
"Altesaam 33 borge het hul kant gebring om stalletjies op te rig en vraestelle beskikbaar te stel, wat deur deelnemers voltooi is. Talle uitdagings is gestel en die deelnemers het sonder skrik of skroom aan alles deelgeneem, soms selfs onder luide toejuiging."
"Dit was Woensdagoggend reeds vroeg duidelik dat daar 'n stille afwagting oor die dorp hang en so hier en daar het 'n voertuig reeds vroeg al by die versterkingspunte gestop om voorraad in te koop vir die dag wat voorlê," het 'n inwoner opgewonde vertel.
Spanne het met tussenposes vanaf die Hofmeyr-sportklub vertrek en ook weer daar klaargemaak en is deurgaans gemonitor met GPS-stelsels en so af en toe moes 'n span aangejaag word, want almal kon sien wie kuier waar te lank.
Daar is nie 'n algehele wenner aangewys nie, maar elke stalletjie het sy eie wenner aangewys en dié onderskeie wenspanne is met 'n skenking van die borg beloon," het Willem Herselman, wat saam met sy seun, André, aan die tydren deelgeneem het, vertel.
Louis en Marguerite Hattingh van die plaas Groenfontein, hoog bo in die Bamboesberge tussen Hofmeyr en Tarkastad, en hul vyf kinders het die uitspandag terdeë geniet.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'