STREEKNUUS - Die boere tussen Graaff-Reinet en Murraysburg, wat saam die gesellige Laer Sneeuberg Boerevereniging vorm, het saamgestaan om 'n boeredag op Woensdag 21 Mei by die Murraysburg-skougronde te hou.
Die vereniging is die tweede oudste landbouvereniging in Suid Afrika, en die voorsitter, Kobus van Heerden, vertel trots aan Graaff-Reinet Advertiser dat dit reeds in 1918 gestig is.
Die boerevereniging het vyf veemiddelmaatskappye as borge ingetrek en hulle het ook kom uitstal.
Plaaslike vroue het hul tuinbouklubvergadering by dieselfde venue aangebied en plaaslike vroue het van hul produkte kom bemark.
Temas
Familieboerdery is uitgelig as die tema van die dag, met spreker André Fourie wat sy wenke kom deel het.
Enige familieboerdery moet suksesvol aan die volgende geslag oorhandig kan word.
Daar is aandag gegee aan alles wat in plek moet wees voordat so 'n boerdery gereed is vir oorhandiging, en die korrekte manier om dit te doen, sodat die volgende geslagte ook suksesvol kan boer.
Casper Schmidt van BKB het in diepte gesels oor die vleisketting van 'n merino-slaglam. 'n Slaglam verlaat die paas as 'n stoorlam.
Die boer verloor sy belang by die lam se waardeketting op die dag wat dit die plaas verlaat en die bedrag van betaling in sy bankbalans weerspieël.
Die winsketting van slagpale, voerkrale en groothandelaars is ook bespreek.
HB van der Walt het gesels oor lammers wat gevoer word, en het die boere self laat besluit of hulle geld maak uit sodanige boerdery en wat hul winsmarge is.
Tegnologie
Die belang van tegnologie is ook beklemtoom.
"Boere moet deesdae hul boerdery baie meer wetenskaplik benader en moet weet watter van hul diere is beter presteerders," het Van Heerden gesê.
"Seleksie en voeding bepaal eventueel watter lam beter sal groei in 'n voerkraal-opset."
Bok vir sports
Die boeredag het nie net ernstige sake aangeraak nie, maar daar is ook geleentheid gegee aan die ligter kan van die saak.
Melissa Schoeman en Elizta du Plessis van Mondia Corporate het aan die manne kom beduie hoe om hul "bok vir sports te laat herontwaak."
Ten spyte van die ysige weer, het ongeveer 130 manne en vroue saamgekuier rondom die tafels.
"Die ouer garde het die weer as verskoning aangebied, en ons moes dit aanvaar, want dit was regtig baie koud," het Van Heerden gesê.
Gemeenskapsdag
'n Fotograaf van Murraysburg, Jan Hendrik Swiegers, het gesê dit was 'n uiters suksesvolle gemeenskapsdag wat deur Laer Sneeuberg Boerevereniging, BKB en House of Fibre aangebied is.
"Hierdie was inderdaad 'n leergeleentheid vir boere, waar hulle kon gesels en kundigheid kon inwin rondom boerberypraktyke. Hier kon boere raad inwin oor hoe om die legio boerderyprobleme wat boere vandag ervaar, te hanteer," het Swiegers gesê.
"Omstandighede in boerdery het in vandag se tyd baie verander en dit is nou 'n wetenskap waarin entrepreneurskap, boerderybestuur en fisiese boerderywetenskap as 'n eenheid aangepak en hanteer moet word."
Kundigheid is noodsaaklik by die bemarking van vee, voervermenging en selfs by die weeg van lammers.
Die fokus het totaal verskuif en vandag is kontantvloei- en belastingbestuur van optimale belang.
Murraysburg sien uit na die volgende boeredag, en is trots op wat dié boeregemeenskap weer vermag het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’