CRADOCK NUUS - Vinnige reaksie het op 14 Augustus gelei tot die arrestasie van twee verdagtes in Cradock (Nxuba).
“Hierdie suksesvolle arrestasie dui op die multidissiplinêre suksesse wat behaal kan word wanneer verskeie instansies saamwerk,” sê die sekuriteitshoof en eienaar van CDK Sekuriteit in Cradock (Nxuba).
Na 'n tragiese voorval in die Kaapstad-metro, wat in November 2023 tot die moord op 'n SAPD-lid gelei het, is National Vehicle Intelligence Cloud (Navic) op 13 Augustus in kennis gestel dat die polisie die verdagte en die voertuig wat gebruik is, geïdentifiseer het.
Die voertuig is omstreeks 23:00 deur CCTV-opgemerk toe dit op die N2, in die rigting van die Suid-Kaap gery het.
Die verdagte voertuig is later, om 06:46 op 14 Augustus, deur 'n kamera op die Navic-platform buite Cradock (Nxuba) op die R61 opgemerk.
Plaaslike Navic-lede het onmiddellik die Cradock-polisie, K9 en CDK Sekuriteit in kennis gestel.
Binne 'n indrukwekkende 15 minute, na die aanvanklike waarneming op die kamera buite Cradock, is die verdagte en 'n medepligtige aangekeer.
Verdere ondersoeke is aan die gang.
Hierdie suksesvolle operasie beklemtoon die doeltreffendheid van:
1. Tegnologiese integrasie
2. Uitsonderlike polisiewerk
3. Samewerking met plaaslike sekuriteitsmaatskappye
“Die Nasionale Nommerplaatleser (LPR) se voetspoor en vertroue in die stelsels was van onskatbare waarde in hierdie operasie,” het wetstoepassers op die toneel verklaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’