CRADOCK NUUS - Die Nasionale Bergkwaggapark (MZNP) buite Nxuba in die Oos-Kaap spog met twee nuwe leeumannetjies, Niklaas en Witwarm, wat van die nabygeleë Addo Olifant Nasionale Park hervestig is.
Hierdie stap is 'n belangrike mylpaal in SANParke se voortgesette roofdierbestuursprogram.
Die mannetjies is op 11 Julie na MZNP verskuif en in die park se bomas geplaas om aan hul nuwe omgewing gewoond te raak voordat hulle op 29 Julie in die park self vrygelaat is.
“Dit vorm deel van 'n breër bewaringstrategie om natuurlike prosesse na te boots en gesonde, funksionerende ekosisteme binne beskermde gebiede te verseker,” sê JP Louw, SANParke se kommunikasiehoof.
Die park se jare lange inwonende leeumannetjie, Nomad, wat ver ouer as die gemiddelde wilde mannetjie geword het, is menslik van kant gemaak.
Hierdie moeilike besluit is geneem om te voorkom dat hy in konfrontasie met die nuwe mannetjies beseer of gedood word.
Die doel met die inbring van die twee nuwe mannetjies is om genetiese diversiteit te handhaaf, om die dinamika tussen roofdier en prooi gebalanseer te hou en om die natuurlike verspreidingspatrone wat in onomheinde, vrylopende omgewings voorkom, te verseker.
Hierdie benadering is deel van SANParke se roofdierbestuursbeleid, wat poog om leeubevolkings ekologies volhoubaar te maak en om oorbevolking of inteling te voorkom.
Die Nasionale Bergkwaggapark se bestuur is opgewonde oor hierdie nuwe hoofstuk in die verhaal van die park se roofdiere en sien uit daarna om in die nabye toekoms welpies van hierdie twee mannetjies te verwelkom.
Die park is ook die tuiste van vier leeuwyfies.
Alhoewel die verlies van Nomad hartseer was vir die park en sy gereelde besoekers, is dit nodig om jong bloed in te bring om die langtermyn-gesondheid en veerkragtigheid van sy leeubevolking te handhaaf.
Besoekers aan die Nasionale Bergkwaggapark is dalk gelukkig genoeg om die nuwe leeus tee te kom soos hulle hul gebied in hul nuwe tuiste begin vestig.
Die park het ook 'n stelsel waar besoekers vroeg soggens by die kantoorgebou, en ook by die winkel by die verblyfkwartiere, kan gaan kyk waar in die park die leeus is.
Moenie dat die sagte kyk in Witwarm se oë jou flous nie!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’