ABERDEEN NUUS - Twee manlike verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n 39-jarige vrou in Aberdeen op Dinsdag 31 Maart.
Uitstekende spanwerk deur lede van die Kariega K9-eenheid en Sigbare Polisiëring het op 1 April gelei tot die inhegtenisneming van twee moordverdagtes wat in ’n wit gehuurde Suzuki Swift in Kariega gery het.
Die voertuig is met behulp van die veiligheidskamerasisteem gemerk vir beweerde betrokkenheid by die moord.
Die voertuig is omstreeks 14:00 in Graaff-Reinetweg, Karieba, deur polisielede afgetrek nadat hulle dit op roete R75 gewaar het.
Daar was vier insittendes, twee mans en twee vroue, en tydens ’n deursoeking van die voertuig het lede kabelbinders, ’n selfoon, ’n sykniptang en ’n bankkaart gevind.
Die twee manlike verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem nadat hulle direk verbind kon word aan die moord.
Die duo, 27 en 32 jaar oud, sou op Dinsdag 7 April in die Aberdeen-landdroshof verskyn op ’n aanklag van moord.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’