PLAASLIKE NUUS - Groot opgewondenheid heers in die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit nadat twee dorpe gisteraand, 21 April, amptelik as semi-finaliste vir Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie aangekondig is.
Beide Aberdeen en Jansenville kom hierdie jaar teen die Sonskynkus se Kenton-on-Sea te staan om as streeksfinalis aangewys te word.
Die publiek kan nou tot 12:00 op Vrydag, 26 April vir hul gunsteling dorp uit hierdie drie semi-finalis dorpe stem.
Om vir jou gunsteling dorp te stem sms net die dorp se naam na 33157. Elke nommer kan 30 keer sms en elke sms kos R1,50. Gratis sms'e kan nie gebruik word nie.
Die Oos-Kaapse dorp met die meeste stemme sal dan as streeksfinalis teen die finalis-dorpe van die ander agt streke meeding om die gesogte Dorp van die Jaar titel.
Die agt ander streke waaruit gekies word is: Gauteng en Noordwes saam, Noord-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, en Namibië.
Kwêla sal ’n insetsel van die nege dorpe in die nege streke, wat die finale rondte haal, kom verfilm en wanneer al nege dorpe op Kwêla verskyn het sal die publiek vanaf 19:00 op 14 Julie tot 12:00 op 19 Julie vir die wendorp kan stem. Die Wendorp sal dan op 28 Julie op Kwêla aangekondig word.
Lees meer oor die 2024 Dorp van die Jaar kompetisie in die volgende uitgawe van die Graaff-Reinet Advertiser.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’