HOFMEYR NUUS - ‘n Helpende Hand-projek, wat deur Hofmeyr Helpende Hand begin is, is besig om vlerke te kry.
Die Vat 5-projek van Helpende Hand moedig takke aan om ‘n projek te begin. Enige projek waarby opheffing betrokke is, kan begin word.
Hofmeyr Helpende Hand het Huis Dirk Postma, in Burgersdorp, as begunstigde geïdentifiseer. Tydens ‘n heerlike oggendtee by Hagenhuis in Burgersdorp, is die planne gefinaliseer.
Die instansie Hofmeyr Hugs of Hope is ook ingetrek om behulpsaam te wees met die verskaffing van wol. Vyf breiers is by Huis Dirk Postma genader en daar is wol verskaf vir breiwerk.
"Hierdie tyd van die jaar is daar oral nood vir kindertruie, en niks is warmer as ‘n handgebreide kleutertruitjie waarby ‘n ouma se liefde ingebrei is nie," vertel Karen Lord, by Hugs of Hope.
Die breiers by Huis Dirk Postma het dadelik weggespring. Breiers ontvang vergoeding vir die truitjies wat hul lewer, maar hulle het besluit dat hul die geld aan Huis Dirk Postma wil skenk.
Huis Dirk Postma se matrone, Johlene van Rooyen, het die eerste besending truitjies die afgelope naweek afgelewer.
"'n Kleurvolle verskeidenheid wat soveel vreugde gaan bring," vertel Sanet Coetzer van Hofmeyr Helpende Hand.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’