Update
CRADOCK NUUS - Die bestuurder van die vragmotor wat betrokke was in 'n ongeluk naby Cradock waarin vier mense dood is, het op 8 September in die landdroshof in Cradock verskyn.
Hy bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 15 September, sodat borgtoginligting geverifieer kan word.
Bewys van adres, bewys van sy status as Suid-Afrikaanse burger, en sy bestuurslisensie is aangevra aangesien hy geen lisensie of identiteitsdokument kon toon by inhegtenisname nie.
Die vragmotor was besig om ’n melktrok wat links na De Hoopstasie afgedraai het, verby te steek toe dit in die regterbaan van die N10 oor ’n aankomende motor gery het.
Dit het die motor etlike meters ver saamgesleep voordat dit in die aangrensende veld tot stilstand gekom het, waar die bestuurder uitgespring en gevlug het toe die voertuie vlamvat.
Vier mense - 'n ma en haar twee kinders, asook 'n ma wie se jong kinders nie in die voertuig was nie - is in die ongeluk dood.
’n Ooggetuie, wie se identiteit nie in die hof bekendgemaak is nie, het ’n polisieverklaring afgelê, wat as bewysstuk ingedien is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’