Update
HOFMEYR NUUS - Die 15-jarige tienerseun wat op 1 Oktober doodgeskok is na hy aan 'n lewendige ankerdraad van 'n kragpaal gevat het, word Saterdag 12 Oktober vanuit Laerskool Hofmeyr se skoolsaal begrawe.
Hansie Merrelton, die seun van Jan Brigoor en Leen Merrelton, is doodgeskok op die plaas Rooibergsleegte, 15 km vanaf Hofmeyr, toe hy na skool vir sy pa wat in die vrugteboord doenig was gaan kuier het.
Op Dinsdag 1 Oktober, was die waterpomp oop, en die leivoor het water na die vrugteboord herlei, waar Hansie sy pa gevind het.
Hy het sy skoolskoene uitgetrek, en onder die kragpaal gelos en deur die water na sy pa geplas, om te gaan groet.
Met sy terugkeer het hy na die ankerdraad van die kragpaal gegryp toe hy sy skoene wou optel.
Dié ankerdraad was egter lewendig, en hy het op die toneel gesterf nadat die skok hom 'n paar meter deur die lug geslinger het.
Die eienaar van die plaas was onbewus van die fout op die paal, maar dit is intussen herstel. Die persoon wat die kragpaal oorspronklik installeer en gebruik het, is glo reeds oorlede.
Die skoolhoof van Laerskool Hofmeyr, Hannes Meintjies, sê die skool het die tragiese nuus Woensdag 2 Oktober met die leerders gedeel waarna 'n minuut van stilte gehandhaaf is.
Hy sê daarna was beraders beskikbaar om met leerders te gesels.
Die skool hou Vrydag 11 Oktober 'n geslote huldigingsdiens in die skoolsaal vir die personeel, leerders en Hansie se nabye familielede.
Die Advertiser het die oorledene se ouers gaan besoek, maar hul was na Cradock vir begrafnisreëlings.
Die familie op die plaas het vertel dat Hansie se ouers sukkel om sy dood te verwerk en dat die familie in rou gedompel is.
Vorige artikel: Tienerseun (15) doodgeskok op plaas
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’