Update
GRAAFF-REINET NUUS - Onmiddellik na die ineenstorting van 'n haarsalon op Markplein eergistermiddag, het die raadslid van wyk 4, Joy Williams, haar na die toneel gehaas waar sy bygedra het tot die hantering van die krisis.
Die ineenstorting het ongeveer 17:00 in die besige Plaza- area, wat ook die taxistaanplek en 'n informele kruidenierswinkel huisves, gebeur.
Williams het aan Graaff-Reintet Advertiser vertel van verwikkelinge op die toneel.
Die ware helde
"Volgens my was die taxibestuurders die helde op die toneel, want hierdie manne het saamgestaan deur toue te span, sodat die deure wat toegeval was, met hul taxi's oopgetrek kon word," het sy gesê.
"Die taxibestuurders het deurgaans geglo dat daar meer mense vasgevang was.
Teen die tyd wat die polisie opgedaag het, was die winkel toeganklik, en was die beseerde binne die gebou sigbaar. Daar kon dus daadwerklik opgetree word."
Die salon se eienaar was ten tyde van die insident nie in die salon nie.
Talle taxibestuurders en passassiers was reeds besig om te probeer help toe sy daar aankom.
In talle telefoonoproepe het sy geleer dat die ambulans nog op pad terug was van Gqeberha en dat daar geen ambulanse op Graaff-Reinet beskikbaar was nie.
'n Taxibestuurder het toe die ambulans gaan haal.
"'n Taxi het ook omgery na die SAPD kantore om die polisie in kennis te stel dat die gebou ingesak het," het sy vertel.
Volgens Williams het sy die waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste, Eduardine Abadiar, ingelig en gevra dat beskermingsdienste en wetstoepassingseenhede ook na die toneel gestuur word.
Binne minder as 10 minute was die verkeersdienste en die Relay mediese nooddienste op die toneel.
Aangrensende winkel
Daar is op daardie stadium geglo dat daar 'n aantal mense in die aangrensende informele winkel was toe die salon in duie gestort het.
Die Relay-ambulanspersoneel het mediese versorging gegee aan een persoon wat beseer was en dit was nie lank voor Graaff-Reinet se staatsambulans ook opgedaag het nie.
Die pasiënt is kort daarna na die Midlands Hospitaal in Graaff-Reinet vervoer met arm- en beenbeserings en vermoedelik 'n hoofbesering, wat nie bevestig kon word nie.
Daar was ongeveer vyf persone in die aangrensende gebou, die informele kruidenierswinkel, toe die haarsalon ingetuimel het.
Hulle kon uitkom nadat die taxibestuurders die deur verwyder het en die winkel is gesluit tot daglig vanoggend.
Die beseerde vrou was besig om die stoep van hierdie winkel te vee toe die dak op haar ingeval het.
Slegs die voorste gedeelte van hierdie gebou is tans baie wankelrig nadat die dak in duie gestort het.
"Ek wil graag my opregte dank uitspreek teenoor die taxibestuurders wat die ware helde van hierdie dag was," het Williams gesê.
"Hulle het vinnig opgetree, blitsvinnig planne gemaak, en uit hul pad gegaan om meer beserings en selfs stertes te voorkom.
Dit is in tye van nood wat ons mense werklik kan saamstaan."
Nooddienste, SAPD en verkeersveiligheidsdienste was op die toneel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’