GRAAFF-REINET NUUS - Verskeie gesprekke met skoolhoofde die afgelope week het aan die lig gebring dat daar steeds leerdervervoerprobleme na skole in afgeleë gebiede is.
By Schoombee-plaasskool sê die skoolhoof mee dat een bus nie padwaardig was nie, en dat die leerders wat van daardie bus afhanklik is, nie opgedaag het vir skool nie.
Klagtes is ook ontvang van skole rondom Hofmeyr, waar leerders nie opgedaag het nie. Leerders sonder geboortesertifikate word nie vir vervoer na skole in ag geneem nie, en hierdie leerders is van wisselvallige geleenthede afhanklik.
Gesprekke met taxieienaars in Hofmeyr, het bevestig dat voertuie wel vir padwaardigheidstoetse gegaan het, en dat die nodige papierwerk op datum is.
Horatio Hendricks, die DA se skaduminister vir onderwys in die Oos-Kaap het op 15 Augustus gesê gerugte doen die ronde oor taxioperateurs wat privaat vervoerders verbied om kinders by skole af te laai.
“Hierdie optrede is nie net ontwrigtend nie, maar ook traumaties vir die betrokke kinders en onwettig.
"Taxioperateurs het geen reg om met ander operateurs in te meng of te dikteer wie toegelaat word om leerders te vervoer nie,” sê Hendricks.
“Die veiligheid en opvoeding van alle kinders moet eerste kom. Terwyl die taxibedryf ’n belangrike rol in die vervoersektor speel, kan dit nie aksies regverdig wat bykomende stremming op ouers plaas en leerders se vermoë om skool by te woon ontwrig nie.”
Daar word weer ‘n beroep gedoen op die LUR vir vervoer, Xolile Nqatha om dringend in te gryp om ouers, kinders en wettige privaat vervoeroperateurs teen intimidasie en obstruksie te beskerm en te verseker dat alle leerdervervoer veilig en wettig is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’