CRADOCK NUUS - Dit was 'n dag van ongekende vreugde vir Tannie Milly Roos, afgetrede eiendomsagent en inwoner van Elizabeth Jordaantehuis, toe sy 'n wintergewig kwilt, waarvoor sy talle kaartjies gekoop het, in 'n gelukstrekking gewen het.
Met die ysige koue wat oor die laaste week, veral snags, oor die Oos-Kaap neergedaal het, is hierdie die ideale tyd om 'n kwilt te wen.
Tannie Milly het tweelingkleindogters wat reeds in beroepe gevestig is, en sy is vas van plan om nog 'n kwilt te wen sodat elkeen van hulle een kan kry.
Die kleurvolle skoenlapperkwilt is geskep deur Tari Chinyoka van Hofmeyr Hugs of Hope, wat dit verlede jaar aan die Elizabeth Jordaantehuis geskenk het om in 'n fondsinsamelingspoging te gebruik.
"Kaartjies is vir 'n jaar lank verkoop, en die tehuis het 'n groot inkomste daaruit gemaak. Tannie Milly was só opgewonde toe haar naam op 24 April, uit die hoed getrek is!" vertel Retha Bonnett, bestuurder by Elizabeth Jordaantehuis.
"Roos het nog altyd 'n sagte plekkie vir Hofmeyr Hugs of Hope, en sy is 'n kleurvolle persoonlikheid.
Die kwilt kon nie aan 'n beter wenner oorhandig word nie," sê Karen Lord, bemarkingsbestuurder by Hugs of Hope.
"Dis vir Hugs 'n voorreg om by die Elizabeth Jordaantehuis betrokke te wees."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’