GRAAFF-REINET NUUS - Die 90-jarige Danie Kleu van Adendorp, Graaff-Reinet, sê sy leuse in die lewe was om sy vader en moeder te eer - dié dat hy so lank gespaar is.
"Staan by jou beginsels, werk hard en maak vrede," voeg Kleu by, wat op 1 Desember sy 90ste mylpaal gevier het. Familie vanaf Graaff-Reinet, Port Elizabeth Jeffreysbaai, Kaapstad en Somerset-Oos was deel van die feesvieringe op 28 November.
Kleu is in 1930 in Graaff-Reinet gebore en is vandag die oudste voormalige Laerskool Adendorp-leerder wat steeds op die dorp woon.
As talentvolle tuinier het Kleu na skool as hooftuinier vir Johannesburg Parke gewerk, waartydens hy tuine beplan en uitgelê het. In 1974 ontmoet hy sy vrou, Ria Strydom, terwyl hy gras plant in Claremont. Die paartjie is drie jaar later getroud.
In 1979 keer Kleu terug na sy wortels in Graaff-Reinet, waar hy vir die plaaslike munisipaliteit as tuinier gewerk het. Hy het ook die Kolie Koeberg-stadion uitgelê, en word in 1986 vereer om 'n tuin uit te lê vir die dorp se 200ste bestaansjaar.
Die tuin wat Kleu in 1986 uitgelê het vir die dorp se 200ste bestaansjaar.
Kleu het vier kinders uit sy eerste huwelik en Ria het drie. Saam het hulle ook een dogter, 14 kleinkinders en 10 agterkleinkinders.
"Baie dankie vir Pa se liefde en omgee deur die jare," sê dogter Natasha Wright, ook van Adendorp. "Ons as kinders, kleinkinders en agter kleinkinders is bevoorreg om Pa se 90ste verjaarsdag saam met jou te kan vier."
"Dankie aan my Hemelse Vader vir my lang lewe," het Kleu afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'