GRAAFF-REINET NUUS - Riku en Jackie Lätti en Bacchus Nel het verlede Saterdag in Nieu-Bethesda opgetree en die gehoor behoorlik bekoor.
Die kunstenaars is op 'n landswye toer om Riku se boek, Taboek, bekend te stel wat hy tydens Covid geskryf het.
Die trio doen dit op 'n unieke manier deur musiek te maak en tussendeur vrae oor sy boek te beantwoord.
Die kunstenaars het van Pretoria getoer na Johannesburg, Klerksdorp, Potchefstroom, Parys, Clarence, Rosendal, Bloemfontein en Nieu-Bethesda en gaan volgende in St Francisbaai, Knysna, die Strand, Stellenbosch, Paternoster en Hanglip optree.
Taboek handel oor 'n filosofie gebaseer op die mens se plek in die natuur en raak aan verskeie elemente soos skoonheid, goedheid, waarheid en vrede. Riku het al op 17 begin skryf en altesaam 34 albums uitgebring.
Jackie kom van 'n ryk agtergrond van drama, verhoog en kabaret en het 'n voorliefde vir skryf.
Sy het onlangs Anne van Green Gables in Afrikaans vertaal en dit word tans op RSG voorgelees.
Bacchus Nel is ook 'n ou bekende in die Afrikaanse musiekwêreld.
Hy het al vyf albums uitgebring wat handel oor liefde, dood en alles tussenin. Taboek is beskikbaar by Naledi Uitgewers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’