KAROO NUUS - 'n Berugte broeiplek van misdaad in Graaff-Reinet, die ou swembadperseel in Cradock- en Queenstrate, is uiteindelik verkoop.
'n Bron het Dinsdag 1 Oktober aan Graaff-Reinet Advertiser bevestig dat die Cacadu Development Agency dit vir R1,6 miljoen by Dr Beyers Naude-munisipaliteit gekoop het.
Die agentskap beplan om dit tot voor-deel van die gemeenskap op te knap. Die herstelwerk kan egter eers begin as die ongure elemente wat in die ou swembadgebou woon, die trekpas kry.
Inwoners in die omgewing gaan reeds jare gebuk onder erge diefstal en durf nie enigiets buite op 'n stoep of in die tuin laat wat weggedra kan word nie. Die situasie het nou al so handuit geruk dat talle inwoners in vrees agter slot en grendel lewe.
Rot en kaal
"Ons word rot en kaal besteel," het een inwoner moedeloos gesê na sy buiteligte vir die hoeveelste keer gesteel is.
'n Ander is besteel terwyl hy by die werk was. "Nadat hulle alles op my tafel geskep het, het hulle die gasgeiser en gasbottel buite die huis gesteel." Hy sê daar was wel beeldmateriaal, maar dit het nie gehelp nie, want die booswigte het balaklavas aangehad.
'n Inwoner van Cradockstraat vertel hoe daar by haar huis ingebreek is nadat sy haar oor 'n hawelose seun ontferm het. Sy glo die seun is al so ingetrek in die wêreld van dwelms en diefstal, dat hy hom deur die ouer seuns en mans by die ou swembad laat ompraat het om dit te doen.
Nie eens die troeteldiere in die gebied is veilig nie. 'n Gesin van Councilstraat se hondjie is al twee keer gesteel, maar gelukkig het hulle haar albei kere teruggekry. Dieselfde gesin sê daar gaan nie 'n week verby sonder dat daar iets buite die huis gesteel word nie.
Misdaadsyfers
"Die hele woonbuurt is 'n miernes van bedrywighede met misdadigers wat nag en dag deur die strate beweeg, duidelik op soek na iets om te steel," het nog 'n inwoner vertel. "Die polisie se misdaadsyfers weerspieël nie die ware prentjie nie omdat baie insidente nie aangemeld word nie. Weens 'n gebrek aan bewyse kom daar dikwels niks van die voorvalle wat wel aangemeld word nie."
Teen druktyd het die SAPD nog nie reageer op Graaff-Reinet Advertiser se vrae nie. Hulle het egter by 'n vorige geleentheid, toe 'n huis in Queenstraat na 'n brand ook in 'n nes van misdaad ontaard het, bevestig dat hulle slegs by magte is om op te tree indien daar 'n saak gemaak word, of 'n misdaad in hul teenwoordigheid gepleeg word.
Gebou al jare beset
Die ou swembad is in Raadslid Ricardo Smith se wyk en hy het reeds twee jaar gelede tydens 'n raadsvergadering voorgestel dat die ou swembad voetstoots verkoop of gesloop word. Die raad het toe die kwessie na die direktoraat vir infrastruktuurdienste verwys met die opdrag dat daar binne 30 dae 'n voorstel aan die raad voorgelê word. Dit het egter nie gebeur nie, deels omdat daar talle uiteenlopende menings oor die toekoms van die ou swembad was.
Met die onlangse verkoop van die ou swembad blyk daar nou lig aan die einde van die tonnel vir die misdaasvoos inwoners te wees, maar nie voor 'n uitsettingsbevel teen die plakkers bekom en uitgevoer word nie.
Die gebou is onlangs aan die Cacadu Development Agency verkoop.
Die gebou is vervalle en mens voel onveilig om selfs net verby dit te ry.
Hier is 'n miernes van bedrywighede dag en nag aan die gang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’