Update
GRAAFF-REINET NUUS - Talle dorpe in die Dr Beyers Naudé munisipale gebied het gister, 9 Februarie, ’n onverwagte donderstorm met hewige reënval en hael ervaar.
Aberdeen het ongeveer 55 mm reën ontvang, terwyl daar in Graaff-Reinet 50 mm in die dorp en 75 mm in die Berg-en-Dal omgewing gemeet is.
In Jansenville is daar 60 mm reën binne die bestek van ’n uur gemeet.
Terwyl inwoners baie dankbaar vir die broodnodige reën is, is daar egter groot kommer oor die stormwaterdreine, afvoerslote en leiwatervore in sommige dorpe wat blykbaar verstop is en oorstromings veroorsaak het.
Hierdie oorstromings het tot groot skade aan eiendomme gelei.
Na afloop van die storm het FF+ raadslid Adriaan van Heerden ’n dringende beroep op die munisipale bestuurder, Edward Rankwana, gedoen om aandag aan hierdie kritieke situasie te skenk.
In sy skrywe aan Rankwana het hy sy dankbaarheid oor die reën uitgespreek maar genoem dat die gebrek aan instandhouding van die afvoerslote en leiwatervore weereens tot ernstige skade aan privaat eiendomme gelei het.
Hy het ook genoem dat, ten spyte van herhaalde klagtes en versoeke wat hy en ander inwoners oor die afgelope tyd aan die munisipale bestuurder en die direkteur van infrastruktuurdiense, Bennie Arendse, gerig het, daar beloftes was, maar geen daadwerklike optrede nie.
Volgens hom laat dit die indruk dat Aberdeen die ‘afskeepkind’ van die munisipaliteit geword het.
“Hierdie nalatigheid het nou tot die punt gekom waar die munisipaliteit waarskynlik siviele eise in die gesig gaan staar weens die skade wat aan privaat eiendom aangerig is,” het hy gesê.
“Die gemeenskap het vertroue verloor omdat die munisipaliteit op sy louere rus en niks aan die probleem doen nie.”
Van Heerden het ’n dringende versoek aan die munisipaliteit gerig om:
- ’n Volledige plan en tydlyn vir die herstel en instandhouding van die afvoerslote en leiwatervore in Aberdeen aan die gemeenskap voor te lê.
- ’n Onafhanklike ondersoek in te stel na die herhaalde versuim om hierdie basiese diens te lewer.
- Duidelike aanspreeklikheid en verantwoordelikheid te aanvaar vir die skade wat reeds aangerig is.
Dit is egter nie net in Aberdeen wat eiendomme skade gely het nie.
Talle besighede en huise in Graaff-Reinet het ook oorstroom as gevolg van verstopte stormwaterdreine en inwoners wonder nou of die munisipaliteit aanspreeklikheid vir hierdie skade gaan aanvaar.
’n Navraag in hierdie verband is aan die Dr Beyers Naudé munisipaliteit gerig en sal gepubliseer word sodra dit ontvang word.
Vorige artikel: Swaar reën en hael ontbloot stormwaterkrisis in Dr Beyers Naudé
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’