BLOG - Vir agtien jaar bly kinders in hul ouerhuise - daar word hul opgevoed en almal kry dieselfde grondslag en basis.
Maar na agtien jaar groei hierdie kroos vlerke, en dan eers vind ware groei en ontwikkeling van persoonlikhleede plaas.
Ons het in 'n huis grootgeword waar musiek daagliks deel van ons lewens was. Ons is vroeg-vroeg blootgestel aan drama en melodrama, daarom was die Kunstefees in Bloemfontein 'n ideale geleentheid om bietjie saam te kuier.
Min of meer veertig jaar later is ons egter eintlik totaal verskillende "'kinders" wat af en toe by mekaar kuier. Tog bly dit 'n ongelooflike voorreg wanneer ons vier susters een keer per jaar vir 'n week wegbreek en iewers gaan ontspan.
Die oudste, wat altyd die leiding neem, het die hele vakansie haarfyn beplan - net soos elke vakansie kleintyd ook in die fynste besonderheid beplan is. Die slag moes ons egter nie ons Barbiepoppe se klere inpak nie, maar ons eie, en nogal vir die koudste week van die jaar.
Tweede oudste suster het altyd liewer stilgebly, en nooit haar leierseienskappe in haar ouerhuis ontwikkel nie. Maar, in die afgelope 40 jaar het hierdie stilblysuster 'n stem in haar eie gemeenskap gekry - sy is nie meer die stil sus met min woorde nie, en haar susters ken haar geensins so nie. By die vakansie word sy dus weer die sus wat eerder waarneem en met groot wysheid liewer stilbly, soos van ouds. Dis immers net 'n week!
Derde sus val in by alle planne; beplan selfs saam en staan geensins terug wanneer dinge nie volgens haar vooruitskouing verloop nie. Sy weet hoe sy van dinge hou en sy weet wat sy wil hê en sy sorg met selfvertroue dat dit so gedoen word, sonder om op tone te trap.
Kleinsus geniet haar posisie as jongste, maar het lankal ver bo haar kleinsuspersoonlikheid uitgestyg. Met volle oortuiging beoefen sy haar beroep en met duidelike grense tussen die susters kom haar insig en ervaring oor die laaste 40 jaar na vore.
So 'n saamkuier is 'n voorreg, maar soos met koshuiskinders wat in verskillende koshuise woon, moes elkeen weer sy eie rangorde vasstel, want na 40 jaar is ouderdom nie meer bepalend nie, maar eerder wysheid, insig, kommunikasie, medemenslikheid en bowenal liefde, die padaanwysers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’